10 Reiswenke vir die Vreemde

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Om ‘n vreemde land te besoek waar almal om jou ‘n ander taal praat en waar dinge anders proe, lyk en ruik, kan soms nogal ‘n (lekker) naelbyt affêre wees.

Elke land kom met sy eie stel moets, moenies en mites en ‘n vriendelike handgebaar hier beteken dalk ‘n warm uitnodiging of ‘n skelwoord daar. Die een reisgids sê, “pasop”, in groot donker swart letters terwyl ‘n ander webblad aanmoedigend uitnooi, “doen dit”. Wenke van wegsteekbeursies en maagpilletjies swerf die kuberruimte vol en slimfone dra swaar aan al wat ‘n hulpmiddel is om die reis makliker te maak en ons te beskerm teen die vreemde en die onbekende.

Maar soms moet jy die hulpmiddels met ‘n knippie sout neem, hier vat en daar los en net die vreemde omhels om die ervaring werklik te ervaar.

Reiswenke1

Hier is 10 reiswenke vir die vreemde; wenke wat werk sonder fênsie apparaatjies of elektrisiteit. Al wat jy nodig het is ‘n goeie dosis swerwerslus.

10 Reiswenke vir die Vreemde

#1 Local is Lekker

Gee ‘n tree na links of regs, weg van die platgetrapde toerpaadjies, en sien die land deur die oë van ‘n local. Besoek ‘n plaaslike mark – ruik, vat en voel – eet by ‘n plaaslike restaurant, klim op ‘n bus of ‘n trein en gaan besoek die plekke wat nooit die blink papier reisblaaie en -voubiljette haal nie.

#2 Observeer

Kyk. Kyk hoe die mense leef, luister na hul taal en let op na hul gewoontes, tradisies en maniere. ‘n Paar ure in ‘n publieke spasie soos ‘n park, mark of restaurant kan jou baie vertel van ‘n land.

#3 Respekteer

Lees op oor die moets, moenies, taboe-dinge en gewoontes en wees onderdanig aan die land wat jy wil besoek in terme van sy mense, kultuur en geloof. Wat ons dalk as konserwatief, vreemd of raar opsom is oor die eeue heen vasgemessel in die land se fondasie – dit is nie daar om ons gemaklik te laat voel nie, maar dit gee ons die geleentheid om diversiteit te ervaar.

#4 Glimlag

Wees vriendlik – ‘n glimlag is die maklikste manier om die kommunikasiegaping te vul tussen jou en ‘n vreemdeling.

#5 Wees Oopkop

Gevare, lang vingers, kansvatters, ‘n konkeling hier en ‘n kul daar sal jy orals kry, maar dit is nie rede genoeg om ‘n land te vermy nie. Wees oopkop, vertrou jou instinkte en moenie besittings laat rondlê nie. Al wat jy moet doen is, dink.

#6 Wees verantwoordelik

Ons het ‘n verantwoordelikheid om verantwoordelik op te tree teenoor die aarde en diere. As jy besienswaardighede of plekke wil besoek, maar nie seker is oor hoe eties dit is nie, vra vrae. Doen navorsing, lees op en luister na daardie stem in jou kop wat dinge bevraagteken! Moenie dink dat ‘n olifantrit, ‘n mak leeuwelpie of roofdier sommer net natuurlik is nie; vermy interaksies met wilde diere (lees meer hier). Dit is nie net diere wat uitgebuit word in toerisme nie, maar mense ook. Daar skuil baie meer seer agter daardie ‘perfekte kiekie’ as wat ons ooit kan dink.

#7 Gaan stadig

Ons het nie altyd die tyd om ‘n plek stadig te verken nie, maar al het jy net ‘n paar uur of ‘n paar dae, maak die meeste van dit. Moenie jaag van die een doending tot die volgende doending nie, stop elke nou dan en laat jou sintuie toe om die omgewing saam met jou te ervaar.

#8 Gaan op jou eie

As jy die geleentheid kry om alleen te reis, doen dit. ‘n Alleenreis laat jou toe om die wêreld op ‘n ander manier te ervaar; dit is sielsverrykend, vreemdelinge word vriende, jy het baie vryheid en jy leer baie meer van jouself.

#9 Wees buigsaam

Elke land se horlosie tik op die maat van sy eie natuurlike ritme. Pas aan en weeg buigsaam as dinge nie uitwerk soos jy beplan het nie.

#10 Môrestond het goud in die mond

Die beste tyd van die dag is vroegoggend. Word elke nou en dan saam met die hoenders wakker, geniet ‘n sonsopkoms, besoek die besienswaardighede voor die toergroepe op dit neerdaal en kyk hoe word die dorp of stad wakker.

Reiswenke2VAT DIE PAD!

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

2 thoughts on “10 Reiswenke vir die Vreemde

Leave a Reply to Elisa | Lies rond de wereld Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge