3 Wes-Kaap Wegbreke

Sammy   August 28, 2019   No Comments on 3 Wes-Kaap Wegbreke
0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×
Leestyd: 3 minute

Suid-Afrika is een groot paradys vir natuurliefhebbers en hierdie week draai ons bietjie in die Wes-Kaap en nooi jou uit om die bos, die see of selfs ‘n bietjie van daardie dorre Karoo-stof te verken.

Daar is iets vir ieder en elk, of jy nou jou lyf van ‘n brug wil afgooi met ‘n reksprong, bietjie modder op jou 4×4 wiele wil kry of net wil onstpan met ‘n boek en ‘n glasie wit of rooi of borrels in die hand, hieronder is 3 druppel-in-die-emmer opsies vir ‘n Wes-Kaap wegbreek.

Doen die Tuinroete

Die Tuinroete is bekend en op baie plaaslike en buitelandse reisigers se kluiteklap-lysies… met goeie rede: dit bied eenvoudig alles wat jy wil hê in ‘n vakansie wat strande, winkels, boeremarkte en rustige natuuraktiwiteite aanbetref. 

garden-route-12-700x525

Vir ‘n verskeidenheid akkommodasie-opsies en natuurgebaseerde aktiwiteite, besoek die SANParks Garden Route trio in Wilderness, Nature’s Valley en Stormsriviermond. Gesinne met kinders sal die lewendige atmosfeer van Hartenbos, Mosselbaai en Plettenbergbaai geniet, terwyl Sedgefield (bekend as ‘n ‘slow town’) en die agterpadroete van die Sewe Passe se verborge skatte nie gemis moet word nie.

Moenie deur die Tuinroete jaag nie, vat jou tyd en dwaal bietjie van die hoofpaad af. Jy sal verbaas wees hoe lank 200 km op hierdie pad jou kan besig hou.

Besoek ons susterpublikasie en lees meer om jou te help beplan aan jou besoek aan die Tuinroete: 

Let the Garden Route wow you

Make time for some Tsitsikamma Tranquility

Camping in Mossel Bay: Beach to Bush

Mossel Bay: STOP, get out and STAY

Soek rustigheid by De Hoop Natuurreservaat

De Hoop is geleë in die Overberg. Dit is hier waar die hemel en aarde van fynbos en die skoonheid van ‘n ongerepte kus mekaar se hande vat. Die rustige reservaat is 3 ure vanaf Kaapstad en die alles-in-een bestemming bied luukse akkommodasie (met jou eie private sjef indien jy dit so verkies), asook meer bekostigbare opsies. Jy kan jouself verlustig aan staproetes, bootritte op die rivier wat perfek is vir jou verkyker en voëlboek, bergfietsroetes, wildritte, vierwielmotorfietse, insiggewende mariene-uitstappies na die strand en daar is ook ‘n restaurant, swembad en ‘n spa om te geniet en te gebruik.

Moenie die sjarme van die Overberg se klein dorpies soos Stanford, Kleinbaai en Gansbaai mis nie.

HiddenGem3-e1457816069466-700x376

Besoek ons susterpublikasie en lees meer om jou te help beplan aan jou besoek aan De Hoop Natuurreservaat:

De Hoop Nature Reserve – a digital detox.

Gansbaai, a South African Fairy Tale

Gaan Hel toe met ‘n glimlag!

Daar is net een plek in die wêreld waar jy kan sê “Ek gaan Hel toe” met ‘n glimlag op jou gesig en dit is in die Swartbergberge, tussen Oudtshoorn en Prins Albert.

Gamkaskloof – ook bekend as ‘Die Hel’ – is ‘n smal, geïsoleerde vallei wat ‘n móét geword het vir 4×4 entoesiaste; nie noodwendig oor hoe moeilik die pad is nie, maar meer as gevolg van die natuurskoon en om nog ‘n hoogtepunt op jou kerfstok te sit wat sê, ‘I went to Hell and back’. En of jy nou die pad aandurf op twee wiele of vier wiele, die 37 km van die Swartbergpas se afdraai tot onder sal meer as 2 ure neem om te voltooi (dit is nou as jy simpatiek teenoor jou bande voel).

Gamkaskloof-9-700x483

Die helse pad kronkel deur ‘n rowwe berglandskap met die een haarnaalddraai op die volgende voordat jy opeindig in Gamkaskloof. Hier sal jy beslis geen selfoonsein kry nie. Geen elektrisiteit, geen OTM’s, geen petrolpompe en geen moderne geriewe. As jy op soek was na ‘n digitale detoks – of sommer net ‘n detoks van almal wat jou pla – is hierdie plek jou antwoord. Dit word aanbeveel om ten minste vir een nag te bly; daar is kampeerplekke, selfsorghuisies en ‘n restaurant.

Verleng jou reis na jou besoek aan Die Hel en bly ‘n bietjie langer in Oudtshoorn om die rus en stilte van die Klein Karoo te geniet. Gaan op ‘n meerkat safari, knaag aan ‘n lekker volstruisbiefstuk, proe Karusa se wyne, Surval se Olywe en Grundheim se gin. Jy kan ook ou gunstelinge besoek soos die Kangogrotte, C.P Nel Museum en na die Meiringspoortwaterval gaan vir ‘n yskoue dip. 

Besoek ons susterpublikasie en lees meer om jou te help beplan aan jou besoek aan Gamkaskloof en Oudtshoorn:

Gamkaskloof, going off the grid.

Oudtshoorn: more than feathers and festivals

A masterpiece called ‘The Swartberg Mountains’

Hierdie artikel is vertaal en aangepas vanaf VROETELVOETE se susterpublikasie, www.goingsomewhereslowly.com.

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge