Die storie agter die boemelaarstorie

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×
Leestyd: 6 minute

Hulle is briljante verkoopsmense.
Hulle is die mees vindingryke en hartverskeurende storievertellers.
Hulle is talentvol. Oortuigend. Top fiks en fluks. Dink vinnig op hulle voete.

Hulle weet beslis hoe om hulle “stories” te verkoop aan die massa. 99% van ons glo dit en skud ons sakke.

Is dit omdat hulle dit so goed kan doen?

Ek is seker iewers is ‘n skool vir bedelaars waar hulle deeglik opgelei word in die kuns om te bedel. Hier oefen hulle ure lank om hulle lyftaal te vervolmaak wat saam met hulle droewige stories gepaard moet gaan. Hulle oefen om te huil. Want die trane loop asof die sluise van die hemel oopgetrek word. (Soms wonder ek of hulle ook uie onder hulle naels invryf soos die akteurs.) En altyd sal hulle God bedank om jou goed te laat voel. Hulle sielkunde is briljant.

Van hulle kan die hartseerste stories skryf agter op eiendomsagentborde en sommige het ‘n sin vir humor en jy kan jou verkreukel in hulle stories. Die een het geskryf dat sy vrou deur aliens ontvoer is en hy het geld nodig om haar te gaan haal. Lees hulle “borde”.

Het julle opgemerk as hulle na jou motor aangestap kom word die kop presies 45 grade gekantel. Die oë smeek. Hande teenmekaar asof in ‘n smeekgebed.

Hulle is baie fiks en fluks. Hulle kan die heeldag op en af loop langs motors wat by die verkeersligte stop.

Kyk maar rond, daar naby is ‘n bos of ‘n bondeltjie mense waar hope kos weggesteek word, wat reeds gebedel is.

Ek gesels met ‘n man wat by ‘n verkeerslig probeer om ‘n eerlike bestaan te maak deur produkte te verkoop. Om hom beweeg bedelaars. Kinders en volwassenes.

*Koos vertel: “Sien jy hierdie kinders hier!” en hy verwys na die kinders wat op die sypaadjie bondel.

Sommige sit-lê op die sypaadjie langs die besige straat. Een is besig om ‘n daggazol te draai. Hulle maak beurte om op en af langs die motors te stap en met ‘n skuins koppie en gebedshandjie geld te vra. Oorkant die pad by McDonalds is ‘n koeldrankpromosie. Halwe glasies koeldrank word aan voorgenome kliënte uitgedeel. Die kinders hardloop kort-kort tussen die motors deur oor die straat om daarvan te gaan drink op die snikhete dag.

kinders

“Hierdie kinders hier. Dit is wat my die hartseerste maak en waaraan ek bitter graag iets wil doen.
Hierdie laaitjies kom almal van Kraaifontein se kant af, uit goeie huise. Ek gesels mos met hulle en vra hulle uit. As hulle hier kom is hulle gomkoppies. En daggarokers. Nou kom bedel hulle hier en die mense kry die kinders jammer. Dan begin die drug lords hulle bekendstel aan Mandrax en tik. Dan begin hulle te steel. Nou slaap van hulle sommer hierso. Gaan nie meer huis toe nie. En wat doen die gemeenskap? Ry verby en gee vir hulle nog geld en nog geld en nog geld. Probeer jy hulle jaag, is jy die verkeerde een. Hulle is goed opgevoede en welgevoede kinders. Of die meeste is. Hulle kry later so wrede kyk in die gesig. En dit is in ‘n paar weke se tyd. En ons weet waar gaan hulle op eindig. Tronk en dood. Dit raak al hoe erger,” stoom Koos voort.

Duidelik ontsteld, omdat die ouers nie omgee en of weet waarmee hulle kinders bedags besig is nie.

draai zolKoos vertel verder.

“Hier is een wat met ‘n kar se sleutel in sy hand bedel. Hy besit nie ‘n kar nie. Maar hy sal enige storie vertel oor die kar met ‘n siek baba wat sonder petrol gaan staan het. Enigiets om geld uit iemand te kry. Laai jy hom op, steel hy alles in jou motor waarop hy sy hande kan lê. Hulle loop met ‘n selfoon wat nie werk nie. Loop en skud die bossie sleutels die hele tyd. En mense val vir dit. Party mense gee vir hom soms R300 tot R400 op ‘n slag.”

“Dan is hier ‘n vrou met blonde hare wat hier kom staan. Nie elke dag nie, maar gewoonlik spitstye. Op haar bordjie staan “single mother”. Yes, sy is ‘n single mother, maar sy het haar kinders al jaaaaare terug afgeskryf as gevolg van drugs. “

please help mum

Single mother, no income. Ek baklei vir sulke goed. Hoekom moet jy lieg vir geld. Sy staan nooit langer as 3 ure op ‘n dag nie. Dis vinnige geld vir haar en haar boyfriend vir drugs. Sy staan gewoonlik lunch time of vanaf vyf uur. Soms hier by McDonalds of soms daar anderkant by Burger King se kant.”

Koos bly ‘n rukkie stil en vertel dan verder.

“Hier was ‘n ou met ‘n afbeen in ‘n rystoel. Met ‘n wit bank sak wat aan sy rystoel vasgemaak is, dan sit sy dikgat (sic) broer langsaan. Daai ou gaan nie huis toe voor hy nie R1800 gemaak het nie. En hy maak dit gou. In ‘n uur of twee se tyd het hy dit. Hy is diabeties, maar hy eet alles. Hy is besig om hom stuk vir stuk op te vrot. Hy doen dit om meer geld te kry. Hy het vier karre, want hy het ‘n smokkelhuis in Delft. Dan vertel hy vir sy seun; ‘Pappa gaan kyk dan kan ons teen die einde van die week vir jou daai Hi-Fi koop van R7 000 wat jy so graag wil hê.’ Hy sit en pee in die rystoel sodat die mense hom jammer moet kry. Mense het al vir hom tjeks uitgeskryf. Sy bank account nommer was op sy bord gewees. Sulke mense maak my baie kwaad!” blaas Koos nog stoom af.

Dan kry jy die wat maak asof daar een of ander gebrek is.

Ek is in Somerset-Wes en gesels met *Josef, wat lustig kou aan die wegneemete wat ek hom gegee het.

“Hier by die verkeerslig sal jy dikwels ‘n man opmerk wat stap soos die een op die video wat jy my gewys het. Hy het ‘n manier om stadig voor die motors verby te beweeg, veral as die lig groen is. Hy wil hê jy moet hom raaksien en hy wil hê die lig moet weer oorslaan na rooi. Jy het mos nou mooi gesien hoe hy sukkel om te stap. Jy moet hom baie jammer kry. Maar vanaand hardloop hy eerste na die taxi.”

In die Strand het ‘n vrou by die verkeersligte gebedel. Sy het graag vir mense vertel dat sy geld bymekaar maak om ‘n kursus te gaan volg om ‘n sekuriteitsbeampte te word. Sy het ‘n sagte moederlike lyf gehad. Een aand het ‘n egpaar om ete die vrou bespreek. Die vrou vertel haar man dat sy die dame by die verkeerslig jammer gekry het, en het haar R400 gegee sodat sy kan gaan vir die kursus. Die man het skokkend na sy vrou gekyk, en vertel toe dat ook gaan geld trek en haar R1800 gegee het.

Nodeloos om te sê sy het maande daarna nog steeds by die verkeersligte gebedel.

Ek onthou ‘n gesprek wat ek 12 jaar gelede met *Abel gehad het wat in Bellville “gewerk” het in ‘n groot parkeerarea. Sommige mense het hom al so vertrou dat hulle in die oggend voor die deur van hulle kantoorgebou gestop het, hul motor aan hom oorhandig het om te gaan parkeer en skoon te maak gedurende die dag. Hy was ‘n goeie, eerlike man. Hy was altyd baie hulpvaardig. Ek het hom jammer gekry en hom ‘n vaste betrekking aangebied. Hy het dit beleefd bedank en gesê dat hy nagenoeg R800 per dag verdien.

“Nee dankie, u kan my nie betaal wat ek hier maak nie. Ek het twee kinders op Universiteit en nog enetjie op skool.”

Voor my kantoor gebou het ‘n man dubbel gevou geloop met krukke. Heng die man het “vreeslik pyn” gehad. Dit het ‘n gat in jou hart – en sak gevreet. Tot ons hom eendag sien hardloop het om ‘n taxi betyds te bereik. Met sy krukke in een hand het hy soos ‘n marathon hardloper genael. Flink en regop. Met ‘n sak vol bedelgeld waarvoor hy ‘n Oscar verdien het met sy toneelspel.

 

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge