Op die Troon: Bon appétit, bon appepoef in Taiwan

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Vergeet jou tafelmaniere, vergeet van broodjies breek, etiket, taboe-gesprekke en ’n netjiese wit gestyfde servet op jou skoot en sit aan by een van die vreemdste tema-restaurante ter wêreld.

Taiwan Modern Toilet

Hierdie artikel is gepubliseer in Die Beeld en Die Burger, 21 Mei 2016.

Modern Toilet is ’n restaurant in Taipei geïnspireer deur ’n Japannese manga-strokiesverhaal, Dr Slump. Dit het klein begin met ’n eenvoudige draairoomys. Vandag bedien die restaurant meer as net roomys en besoekers stroom van oral om een van die takke in Taiwan, China of Hongkong te besoek.

Jy mag dalk wonder hoe die klein begin van ’n eenvoudige draairoomys uitgedraai het op so ’n reuse-sukses, maar dan besef jy dat die naam van die restaurant nie doekies omdraai nie; wat jy sien, is wat jy kry en wat jy kry, is heeltemal ’n ander storie.

Die roomys het nie naam gemaak omdat dit ’n dekadente skeppie gelato is nie. Nee, dié roomys het in die Asiërs se mae ingekruip omdat die humoristiese hopie roomys lyk soos bruin bollie en voorgesit word in ’n miniatuur- Asiatiese hurktoilet.

Die Asiërs se fassinasie met ontlasting het nog altyd my belangstelling geprikkel. In Suid-Korea is daar ’n toiletmuseum, laggende poefgesiggies pronk op kouse en sleutelhouers en rooiboonbroodjies word verkoop in die vorm van bollie.

Die poep-en-poef emoji’s op slimfone word die meeste in Maleisië gebruik, Japan het ’n bollie-gegeurde kerrie en Thailand maak deesdae koffie van olifantmis.

Ná al my poefwaarnemings was dit vanselfsprekend dat ek Modern Toilet in Taipei moes besoek. Die toilet was prioriteit. Ek het op die eerste dag van my besoek die hoë Taipei 101-toring, borreltee en straatkos geïgnoreer en dadelik afgepyl op Modern Toilet. Die nood was groot.

Taiwan Modern Toilet

Bon appepoef!

Die drieverdiepinggebou maak ’n indruk al sommer van ver af met neonblou ligte, ’n reuse-toilet hoog teen ’n muur en toiletposisies op die vensters. Met die intrapslag groet vriendelike bolliegesiggies en goue porseleintrone jou, jy voel sommer welkom. Die tema is duidelik en híér is nie tyd vir omdraai of skaamkry nie. Toilette en bolliehopies is al wat jy sien. Dit is teen die mure, dit is lampskerms, kaggelkkkies oral, op die spyskaart en (raar maar waar) in die badkamer.

Taiwan3

Die stoele is toilette met pragtige deksels wat gevul is met skulpies en patrone en die tafels is wasbakke met ’n glasblad bo oor. Binne elke wasbak is daar ’n lekker groot bruin veselglas poefhopie.

Die toilette word sommer vinnig-vinnig vol en oral waar jy kyk, word kiekies geneem met drukkende glimlagte.

Modern Toilet se spyskaart is ’n reis op sy eie.

Ná ’n besoek aan dié restaurant, sal jy nooit weer met dieselfde oë na kapokaartappels kyk nie.

Elke denkbare gereg is in die vorm van poef en as dit nie die vorm is nie, dan word dit voorgesit in ’n miniatuur weergawe van ’n Westerse toilet, ’n hurktoilet, ’n bad, wasbak, toiletbeker en jy kan jou koeldrank slurp uit ’n urinaal.

Vir ’n ekstra paar rand kan jy selfs jou urinaalbeker huis toe neem, kompleet met proppie en al.

Al die kos lyk aanloklik en dis moeilik om te kies tussen pasta, kerrie, varktjops en roerbraai. Een ding is vir seker – jy wil uit ’n toilet eet. Vir ongeveer R120 (NTD 260) kry jy ’n beker swart tee, sop, ’n hoofgereg met rys, ’n hopie van daardie bekende roomys en die een keer in ’n leeftyd die geleentheid om uit die mees ondenkbare objek te eet.

Taiwan4

So tussen deur die borrelende bruin sous van die varktjoppie in die toilet en slukke koeldrank uit ’n urinaal besef ek hoe liggeraak ons almal maar eintlik is.

Ek stuur ’n vinnige foto van my kos vir my ma op WhatsApp en sy reageer met “ag nee, my kind”, ek plaas ’n foto op sosiale media en die reaksie is van huilgesiggies tot “Hoe kan jy dit doen?”.

Baie uitroeptekens, baie vrae en baie twyfel aan my verstandelike gesondheid.

Die foto’s hou nie op nie. Ek neem ’n swetterjoel, oorkant my word iemand se foon vol van al die poef-selfies en op elke verdieping hurk iemand vir ’n foto.

Almal loop rond en neem elke toiletornament af – die badkamer inkluis met sy pruillippe-urinaal en die wasbak in die vorm van ’n toilet, wat jou hande laat met ’n vreemde, nie-so-skoon gevoel.

Net sodra jy dink jy gaan nie meer foto’s neem nie, kom die finale kersie op die koek, die roomys. Dit is hierdie roomys wat tot Modern Toilet se reuse-sukses gelei het.

Dit is hierdie roomys wat ’n revolusionêre opskudding veroorsaak en almal uitgedaag het om verby die toilet te kyk.

Die kelnerin plonk die urinaal voor my neer en binne-in die bakkie lê ’n pragtig gedraaide bruin roomysdrol.

Bon appétit, bon appepoef.

Taiwan6

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge