Darling Stagger: ‘n Slenterstap langs die Weskus

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Ontdek die gesogte roetes van West Coast Way en laat die Weskuskultuur deur jou are pols en die landskappe van kus tot kerk jou betower – óf jy nou die Darling Stagger slenterstaproete wil aanpak per voet óf wil vertoef by Tannie Evita se Perron – híér is sowaar iets vir almal.

Die Weskusroetes van West Coast Way bring die mooi, die lekker en die uniek van die Weskusdorpies na vore met ’n verskeidenheid van roetes; naby genoeg vir ’n daguitstappie en ver genoeg vir ’n vinnige wegbreek uit Kaapstad.

Die Bergroete (West Coast Way Berg Route), kronkel deur passe, koringlande en die welige groen rooibosplantasies van Carmien Tea, terwyl die roete se suster, die Kosroete (West Coast Way Foodie Route) so neffens die berge smullekker Weskusgeure opdis van vars kreef tot ’n dekadente snytjie koek. Vir ’n drie-in-een roete, swaai die motor in die rigting van Malmesbury en Morreesburg en verken die Landskaproete (West Coast Way Scenic Route), maar bo en behalwe die skilderagtige natuurtonele kan jy ook ’n deel van die Kosroete raak eet en ’n stuk van die Kultuurroete (West Coast Way Culture Route) raak loop.

West Coast Way Routes

Die Kultuurroete bring jou tot by Darling; ’n Soete Weskusdorpie met ’n groot hart. Vir dae lank aaneen kan jy suig aan Darling, soos ’n taai karamel toffie, oftewel, ’n Darling Sweet toffie. Darling, ongeveer ’n uur en ’n koffiebreek van Kaapstad, is ’n rustige dorpie, maar nie skaam vir avontuur nie. Ontdek die strate van Darling met ’n Darling Mystery Toer, gaan stil die hongerpyne by die Chicory Cheese Café vir heerlike organiese disse, The Flying Pig vir gerookte vleise, Bistro Seven vir ’n koningsmaal en gaan sit aan tafel by Darling Brew, waar 14 soorte boetiekbiere jou dors inwag. En natuurlik, onthou om te gaan kuier by Evita se Perron waar jy een van Pieter Dirk-Uys se vertonings kan geniet.

Darling Evita se Perron

Maar as die avontuurlus groot is, bind dan jou veters vas, sit ’n hoed op en asem die vars natuurlug in op die Darling Stagger, ’n drie-dag slenterstaproete wat deel uitmaak van die Cape West Coast Biosphere Trails wat oud en jonk kan vermaak met ’n kombinasie van fietsry, stap, kultuur, natuur en ’n glasie wyn, of dalk twee.

Die Darling Stagger – Stap, Trap en Slenter

Die Darling Stagger vryf ’n bietjie skouers met die Italiaanse leefwyse wat jou aanmoedig om die eenvoud van jou omgewing stadig te geniet saam met goeie vriende, goeie kos en goeie wyn.

Die drie-dag reisplan van die Darling Stagger is propvol vermaaklikhede, aktiwiteite, wyn- en olyfproe geleenthede en in plaas van om al die bagasie op jou rug te gooi, of verstrengel te raak tussen die nate van ’n slaapsak op ‘n dun blou matrassie, kan jy oornag in die gemak van ’n gastehuis se hemelse kooi.

Die staproete skop af by !Khwa ttu, ’n Sankultuur en opvoedingsentrum, waar ’n inleidende toer tot die Sankultuur op jou wag. Die roete – ’n oorspronklike drie-dag en +20km roete – kan gelas, geplak en geknip word om aan te pas by die stappers se behoeftes. Óf jy nou baie wyn wil proe en slenter en óf jy meer tyd langs die kus wil spandeer óf die een na die ander olyf eet, hier pas die pad by jou ritme aan!

Darling stagger

Te danke aan Ryno, ons gids, se beplanningsvernuf kon ek en drie ander reisbloggers – Roaming Giraffe, Moving Sushi en The Incidental Tourist – ’n vinnige Darling wegbreek geniet en ’n paar kilometers van die Darling Stagger roete onder die knie kry. In gelid het ons ingeval op ’n kronkelende rooi pad waar koningskandelaarblomme geduldig en droog staan en wag vir die reënseisoen, ’n tyd vir breëbors blom. Die 10km roete tot by die kus het in ’n japtrap verby gegaan met staaltjies en praatjies van fauna tot flora met ’n kundige gids aan ons sy. Die laaste paar kilometers was ’n stil strandstappie tot by Yzerfontein met dreigende donker wolke bo en ’n hewige huilwind van voor.

Darling Yzerfontein

Vinnig-vinnig het ons ongeveer 14km van die Darling Stagger se kus en natuur per voet verken net voor die belowende dik grys wolke stem dik gemaak het met ’n luidrugtige reënbui.

Darling Stagger Staproete

Die res van die roete het ons aangepas en na ’n heerlike nagrus en ontbyt by The Granary Petite Hotel en Chicory Cheese Café het ons die strate met kamera en kaart ingevaar en die Darling Museum, Darling Sweet, Evita se Perron en Darling Brew besoek.

Darling Granary Petite Hotel

Darling Stagger – Pak jou Sak

Hierdie slenterstaproete is perfek vir diegene wat ’n rustige stappie wil geniet sonder om soos ’n pakesel te voel. Terwyl jou bagasie en daai hemelse kooi wag by die gastehuis, kan jy die volgende items in ’n dagsakkie gooi:

  • Kamera,
  • Sonbril, sonbrandroom en hoed,
  • Gemaklike skoene wat kan werk vir klippad, sand en see,
  • ‘n Baaikostuum,
  • ‘n Happie en ‘n sappie,
  • ‘n Paar Rand vir die wis en die onwis, en
  • ‘n Waterbottel vir hergebruik.

Darling stagger guide

Wil jy meer weet?

Besoek gerus www.westcoastway.co.za om meer uit te vind oor die Darling Stagger asook die ander Weskusroetes, en bekom meer inligting oor die staproete (plus ander roetes) deur te loer na Cape West Coast Biosphere trails se webwerf, www.capebiospheretrails.co.za.

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge