Deur die Karoo: 5 Dorpe en 5 Dinge

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Suid-Afrika se nasionale paaie kruis kronkelend deur die Karoo in lang teerstrepe. Die dorpies – meestal sonder verkeersligte en toringagtige verdiepings – is ‘n stilstaan uur vir koffie en kos, ‘n vinnige brandstof- en piepiestop voor die motorsleutel weer draai en die lang pad roep.

Óf jy nou vertoef vir ‘n uur of twee óf sommer êrens ‘n Karoo-kooi kies, een ding kan jy maar seker van wees: as jy eers die stilte van die Karoo geproe het bly jy nie maklik weg van die dorre landskappe en krakige windpompkreune nie.

Daar is altyd nog ‘n dorpie en nog ‘n dag en net sodra jy dink jy het die Karoo op jou reiskerfstok dan tref nog ‘n skilderagtige landskap jou onverwags tussen die hart en die oë.

Die Karoo is soos ‘n niekerbol, getooi in verskillende kleure en geure; so hoekom nou langtand kou aan daardie gelatien-gevulde hoenderpastei langs ‘n petrolpomp as jy kan briek aandraai vir ‘n Karoo-kuier?

Vertoef ‘n bietjie in hierdie 5 Karoo-dorpies wat jou van die pad af sal dwing tydens jou langpadreis. Maar wees gewaarsku: ‘n beplande uur of twee in die Karoo word vinnig-vinnig ‘n onbeplande dag en nog ‘n nag.

Langpadreis: Verken die Karoo

Iets om te doen in die Karoo tydens jou petrolstop of daardie onbeplan dag en nog ‘n nag.

Barrydale: Melkskommels by Diesel & Crème

Karoo Barrydale Diesel Creme

As jy eers die hemelse smake van Diesel & Crème se soet dubbeldik konkoksies geproe het sal jy nie maklik weer tevrede wees met ‘n doodgewone, vervelige melkskommel nie.

Rek en strek die bene in Barrydale met jou reis op Roete 62 en loop verken al die vintage fieterjasies op die erf van Diesel & Crème en die Karoo Moon Motel. As die honger groot is geniet een van hul heerlike spesialiteitsbroodjies.

Waar: Tennant Straat 2, Barrydale.

Oudtshoorn: Meerkatte saam met Meerkat Adventures

Meerkat Adventures Oudtshoorn

Jy moet maar die familie bel en hul laat weet dat jy ‘n bietjie laat gaan wees as jy een van Meerkat Adventures se avontoere wil doen.

Die meerkattoer begin dou voor dag met ‘n kampstoel onder die arm en ‘n beker koffie in die hand. Saam met die Karoo se meerkatfluisteraar, Devey Glinister, sit jy ‘n paar meter van die meerkatte se lêplek en wag vir die wollerige predikantjies om te ontwaak en hul pensies na die son te draai. Dit is verseker ‘n unieke ervaring wat jy nie moet misloop in Oudsthoorn nie (om meer te lees oor die toer, klik hier).

Waar: Oornag by De Zeekoe Gasteplaas en ry vroegoggend ‘n paar kilometer van daar tot by die ontmoetingsplek.

Steytlerville: Veranda Koffiewinkel en Pegasus Klassieke Motormuseum

Karoo Steytlerville Veranda Coffee Shop Pegasus Museum

Steytlerville kry hopeloos te min aandag vir ‘n dorpie met soveel geskiedenis van rugbyhelde tot digters, unieke restaurante en kuns. Die Veranda Koffiewinkel is een van die dorp se skatte en híér kry jy meer as net koffie.

As jy op die stoep van die Veranda koffiewinkel sit en jou vergryp aan ‘n snytjie koek (van die beste in die Karoo) sal jy nooit raai dat daar ‘n motormuseum met klassieke versamelstukke van toentertyd in die agterplaas skuil nie. Dit is ‘n moet-besoek vir enige motorentoesias!

Koek, koffie en ‘n paar ou karre, nou wat is beter as dit?

Waar: Sarel Cilliersstraat 52, Steytlerville.

Vir meer Steytlerville doendinge, klik hier.

Graaff-Reinet: Vallei van Verlatenheid

Karoo Graaff-Reinet Vallei van verlatenheid

Hier gee die kranse regtig antwoord en een keer se besoek is nie genoeg nie. Twee keer ook nie.

Vallei van Verlatenheid lê ‘n paar kilometer buite Graaff-Reinet en is ‘n natuur- en klipwonder wat ‘n uitsig bied van Graaff-Reinet, die Kamdeboo-vallei en die kenmerkende Spandau-kop terwyl sebra en bok se kind grassies vreet in die verte. Die 120 m hoë dolerietkolomme is gevorm oor die jare heen (‘n goeie paar miljoen) en hier kan jy jou stem weer kind hou en eggo-speletjies geniet.

Waar: Volg die R63 uit Graaff-Reinet en draai links af na die Nqweba Dam.

Cradock: Bergkwagga Nasionale Park

Karoo Cradock Bergkwagga Nasionale Park

Hiert jou kwagga!

Bergkwagga Nasionale Park is nog een van die Oos-Kaap se wilde wonders maar die kwaggas, vele boksoorte en jagluiperde is nie al nie; maak jou reg vir ‘n voldag besoek (of oornag in die park en bel maar die familie maar weer om te vertel dat jy ‘n bietjie laat gaan wees).

Die landskappe is kuns en jy staar in oopmond-verwondering na die handewerk van Moeder Natuur; hier voer rotse balanstoertjies uit, die berge kreukel en vou en doer in die verte sien jy die swart en wit van meneer sebra op die horison terwyl ‘n donderstorm dreigend raas en ‘n bobbejaan al koggelend boggom.

Waar: Volg die R61 uit Cradock uit en hou koers vir 24 km.

Hierdie vyf doendinge is maar net ‘n piepklein lusmakertjie van die druppel in die Karoo-emmer…

VAT DIE PAD en verken die Karoo!

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge