De Zeekoe: ‘n Meerkat-avontuur in Oudtshoorn

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Net ’n entjie buite Oudtshoorn lê die bekorende De Zeekoe gasteplaas; ’n werkende lusern plaas waar seekoeie destyds diep spore gelos het toe die plaas nog bekend gestaan het as Zeekoegat. Vandag, ’n eeu of wat later, loop dieselfde rivierbed waarin die seekoeie baljaar het steeds deur die plaas en besoekers bevind hulself in die hartjie van die Klein Karoo, toegevou tussen die kreukels en plooie van die Outeniekwa- en Swartberge.

de zeekoe oudtshoorn

De Zeekoe Gasteplaas

Híér verloor jy jou hart vinnig-vinnig. Dit kos net een sonsondergang, ’n aand onder die sterre en ’n Karoo-dis voor jy jou dagboek wild deurblaai en plannetjies beraam vir ’n volgende besoek. Óf jy nou in die luukse kamers bly met ’n rivieruitsig óf so ’n entjie verder weg in ’n houthuis op die meer óf in die klipkothuise met knetterende kaggels…een besoek aan De Zeekoe is nooit genoeg nie.DeZeekoe6

De Zeekoe se uniekheid wemel tussen die Karoo-stilte en die helder blou lug; daar is geen gejaag, geen geraas en in die verte steun en kreun ’n Windpomp saggies al in die rondte. Hier kan jy stap, fietsry, roei op die meer, visvang, voëls kyk, die pad vat, swem en jou skoene uitskop en onstpan.

Oudtshoorn

Maar De Zeekoe se uniekheid wemel ook so ’n entjie verder weg op ’n ander deel van die plaas tussen ’n paar skugter meerkatte…

Meerkatte en Nog Meer Meerkatte

As daar nou een ding is waarvoor jy maar jou alarm kan stel om vroeg uit die kooi te spring dan is dit die Meerkattoer met Meerkat Adventures; die ideale geleentheid om jou dag sommer op ’n hoë noot te begin, soos enige dag móét begin: in die veld met ’n beker koffie en ’n stukkie beskuit.

Die Meerkattoere word begelei deur Devey Glinister, ’n gids wat die lêplekke en holtes van Meerkatland ken soos die palm van sy hand. Dag in en uit fynkam hy die area en dit is nie net die lêplekke en holtes wat hy ken nie, maar ook die gedrag van die meerkatte. Sy passie is tasbaar, sy kennis laat jou aan sy lippe hang en sy etos is gewortel in sy respek vir die natuur.

Devey Glinister Meerkat Adventures

As jy gedink het híérdie is nou jou geleentheid om aan meerkatte te vat, dink weer. Devey vertel almal vinnig-vinnig hoe sake staan en Meerkat Adventures se webwerf stel dit ook baie duidelik.

Daar is geen interaksie (vat of voer) tussen jou en die meerkatte nie. En dít is hoe dit hoort.

dezeekoe4

Met ’n stoel onder jou arm en ’n beker koffie in jou hand stap jy die Karooveld in en wag vir die son om sy verskyning te maak. Híérdie grond behoort aan die meerkatte.

De Zeekoe Meerkat

Een vir een kruip die meerkatte uit hul kooi en lig hul magies na die son. Die sonpaneel-pensies moet eers goed warm word voor hul hul dag kan begin; as een meerkat die ander een se son blok word daar vinnig rondgeskarrel om weer ’n warm kolletjie te vind. Half aan die slaap sit hul en wieg met oë amper toe. Doodstil sit jy op jou stoel en kyk hoe hul die son indrink. ’n Uur word maklik twee en jy dink weer aan daardie dagboek en beraam plannetjies vir ’n volgende besoek en ’n tweede meerkattoer.

Meerkat Oudtshoorn

Elke nou en dan dwing die wonder van die natuur jou om jou kamera neer te sit en net verlore te raak in die oomblik. Soos predikantjies staan hul penorent, al glinsterend in die son met handjies gevou en ogies wat blink.

Meerkat Adventures Oudtshoorn

Devey deel ‘n paar interessante meerkat-feite; meerkatte bly in families en elke familie het ‘n spesifieke reuk. As jy nie ruik soos jou boetie of ma nie dan is dit basta met jou. Hul stokstertjies word gebruik as stoele, hul kan hul eie liggaamsgewig uitgrawe binne 30 sekondes en hul sal enige oogtoets lag-lag slaag.

Meerkatte Oudtshoorn De Zeekoe

In die verte staan ‘n meerkat klaskaptein paraat en wag, hy hou ’n ogie oor die res van die familie terwyl hul ontwaak en hulself regmaak vir die dag; almal is salig onbewus van die snaakse menskreature op stoele ‘n paar meter weg.

Hier en daar gaap ’n meerkat met ’n mond wawyd oop, die neusies wikkel en een vir een begin hul weg te beweeg van die kooi.

Wakker. Reg vir die dag. Honger.

Meerkat Adventures Oudtshoorn

Jy pak jou stoel op en beweeg terug na die beginpunt.

Wakker. Reg vir die dag. Honger.

‘n Feesmaal van ‘n ontbyt wag jou in by De Zeekoe Gasteplaas, jy smul aan ’n sny heerlike varsgebakte plaasbrood en gesels borrelend jy oor jou meerkatervaring.

Die dag het nog skaars begin, jy trek by jou tweede beker koffie en jou kamerakaart bars alreeds uit sy nate.

Met elke slukkie boeretroos sê jy vir jouself, “vandag was ‘n goeie dag, vandag is ‘n goeie dag” en die horlosie se oggendwyser staan nog nie eers by 10 nie.

Jy trek jou sak nader, slaan jou dagboek oop en krap haastig rond vir ‘n pen: een besoek aan De Zeekoe is nooit genoeg nie.

Pak jou tassies en kies koers Oudtshoorn toe..

De Zeekoe Gasteplaas het tans ‘n wintersaanbod waar jy slegs vir 2 aande betaal wanneer jy 3 aande bly! Hierdie aanbod is geldig tot en met 30 September 2016.

Besoek www.dezeekoe.co.za en bespreek jou winter-wegbreek in die Klein Karoo sommer nou!

Dezeekoe13

As jy ‘n meerkattoer wil bespreek (ek weet jy wil), besoek www.meerkatadventures.co.za vir meer inligting. Die toer is R550 per persoon en vir gaste wat tuisgaan by De Zeekoe Gasteplaas is dit slegs R450 per persoon.

Nou ja toe, waarvoor wag jy? Vat die pad!

Vrywaring: Ek was ‘n gas van De Zeekoe Gasteplaas; alle opinies op hierdie blog is my eie en gebaseer op my persoonlike ervaringe.

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge