Die “arm pensioenaris” op sy trapfiets en die naakte vrou

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×
Leestyd: 5 minute

“Daar is nie ‘n ander manier om die natuur so te kan sien en beleef nie. Jy ruik die blomme, sien alles wat beweeg en voel vry!”

Toe VroetelVoete Willie Pienaar se blog raaklees, moes ons dadelik kennis maak met hierdie baie avontuurlustige 63-jarige jongman. Een van sy dogters noem hom “My Crazy Dad” omdat hy deur Syrië gaan toer het gedurende ‘n burgeroorlog!

“Maar” sê Willie beskeie, ‘n afgetrede elektisiën van Middelburg, “miskien pas die naam by my, want ek is maar ‘n avontuurlustige persoon en hou daarvan om te toer.”

fiets 1

Hy is ‘n gelukkige pa met drie dogters en een seun en alhoewel hulle nie een saam met hom fiets ry nie, deel hulle tog sy passie met trots.

Willie hou daarvan om alleen te toer met sy trapfiets, maar vertel dat hy nie regtig ‘n alleen mens is nie en hoop dat daar “eendag” iemand sal wees wat saam met hom sal trap. Al is dit net vir motivering vir daardie dae wat jy voel jy is moeg en lus is om op die eerste trein terug te klim huistoe.

Daar is slegs ‘n handjievol Suid-Afrikaners wat met trapfietse toer.

Ons vra Willie of hy nie onveilig voel nie?

Hy vertel dat jy altyd daaraan dink wat met jou langs die pad kan gebeur, want jy is ‘n sagte teiken op ‘n trapfiets, maar hy behoort aan Warmshowers (‘n wêreldwye netwerk met meer as 85 000 lede wat gratis en veilige slaapplek verskaf aan hulle lede.)

Willie sê daar het al fietsryers van Argentinië, Chilli en Spanje by hom kom oorslaap. Dan kry hulle behoorlike Afrikaanse cuisine: Braaivleis, braaivleis en nog braaivleis.

“Ja nee, hulle weet dan wat beteken BRAAI!” lag Willie blink-oog.

Buitelanders vertel graag wat ‘n wonderlike land Suid-Afrika is. Motors en swaarvoertuie maak spasie vir jou en die vragmotors blaas graag hulle toeter om te groet.

Wille vertel dat hy dit ook vertroostend vind as die vragmotors toet. Hy bel sy familie gereeld in die aande en hulle volg hom elke minuut ook op die gratis 360-toep. Dus weet hulle presies waar hy is en waar hy stop en sal gou-gou bel as hulle bekommerd is.

motorfiets

Willie vertel: “Ek is feitlik deur die hele Suider Afrika met my motorfiets voor my toer na Turkye. Ek het Namibië, Zambië,  Zimbabwe, Malawi, Botswana, Lesotho en Mozambiek getoer.

motorfiets 2

“Ek is Turkye deur met ‘n 750 Honda Africa Twin maar het die motorfiets verkoop. Dit was eers na my toer na Instantbul dat ek met my trapfiets begin toer het. Van my toere was Middelburg Karoo na Mosselbaai, Uniondale (R62) na Kaapstad. Overberg- Malgas na Kaapstad. Barkleypas na Rhodes. Coast to Karoo to Coast oor die Rooibergpas. Kammanasie, De Vlugt, Prins Alfredpas en die Sewe Passe terug Mosselbaai toe”

fiets 2

“Ethiopië was my nommer een land met al sy geskiedenis soos die Lalibela Rock Churches byvoorbeeld. Ek kon my verkyk daaraan.”

Untitled collage

“Die hartseerste toer was Syrië. Die land was alreeds nege maande in ‘n hewige burgeroorlog betrokke en hoe die Moslems my as Christen in hulle eie nood beskerm het.

“Ek het die vriendelikste mense ontmoet in Sudan. Daar word jy as vreemdeling soos ‘n koning behandel. In Sudan, Syrië en Iran dra hulle jou op die hande.”

“Maar ek was ook nog nooit so bang soos ek was in Alepo, Syrië nie. Die stad, Homes, was aan die brand en moes ek toe ompad ry en dit was reeds nag toe ek in Alepo aankom. Ongelukkig was Alepo ook aan die brand en die weermag was orals. Ek het gestop en diep uit my hart begin bid. Daar stop toe ‘n man by my en vra of hy kan help, aangesien ek in ‘n baie onveilige kant van Alepo was.

“Nadat ek hom vertel het ek dat ek ‘n veilige plek soek om te oornag het hy gesê ek moet hom volg na ‘n ander, veiliger, deel van Alepo, waar hy my toe na ‘n hotel toe neem. Hy praat ook toe met die eienaar en beding ‘n afslag vir sy “vriend” in nood. Ek was baie dankbaar.”

Road Sign

“Hoe gemaak met kos?”  wou VroetelVoete weet.

“Ek maak meestal vir myself kos. Soms slaap jy in jou tent in ‘n klein gehuggie waar geen winkels beskikbaar is nie. Maar ek bederf myself ook met lekker etes.”

Wilie vertel opgewonde van sy planne vir 2020. Maar kom ons laat hom in sy eie woorde vertel:

“Ek trap volgende jaar in die VSA van die staat Maine, op die grens van Kanada, al langs die ooskus tot in Key West die mees suiderlike punt van die VSA. Dit is ‘n afstand van 4800 km, 450 dorpe en 15 state. Amerika maak dit baie maklik om daar te toer. Ek het ‘n tien jaar toeriste visa.”

En daarna?

“Op my kluiteklaplysie is Thailand, Laos, Suid-Korea, Japan en dan die Camino – nee, ek gaan nie stap nie, ek gaan met my fiets ry!”

Hoekom per fiets?

“Daar is nie ‘n ander manier om die natuur so te kan sien en beleef nie. Jy ruik die blomme, sien alles wat beweeg en voel vry.”

fiets 3

Wat pak jy alles in?

“Met trapfiets pak jy so min as moontlik in vir die gewig. Maar noodsaaklik is jou tent, matras en slaapsak, want jy weet nie of jy die volgende dorp gaan maak nie. Met my toer in Mei 2019 tussen Aberdeen en Willowmore (119 km) kry ek toe sterk wind van voor en besef ek gaan nie Willowmore maak. By ‘n padstal 40 km voor Willowmore vra ek toe of ek daar kan tent opslaan. Mense help jou altyd as jy met n trapfiets toer, ek weet nie hoekom nie. Ek dink soms hulle dink jy is arm en kry jou jammer. Daar stop ook toe ‘n oom wat daar boer en vra of ek nie geld het vir brandstof nie.

“Ek speel toe maar saam en sê vir die oom ek het nie geld nie, ek is ‘n pensioenaris.”

“Vertel ons ‘n staaltjie?” vra VroetelVoete en Wille begin dadelik glimlag met ‘n guitige flonker in sy oë.

“Met my Coast to Karoo to Coast verlede maand het ek die Kammanasie grondpad getrap. Geen voertuig in sig die Sondag nie. Net ek en die stilte. Die plaashuise is gebou baie naby aan die grondpad. Ek kom toe, amper geruisloos om ‘n draai met my fiets, motordreuning sal mos nou van ver gehoor word. En daar staan ‘n vrou op die erf. Naak. Dit is die vinnigste wat ek nog ‘n vrou ongeveer 15 meter sien hardloop het na haar huis toe. Ek moes nog ‘n rukkie bly staan het om oor die skok te kom van wat voor my oë gebeur het,” vertel Willie en lag kliphard.

fiets 4

Willie bied nie begeide toere aan nie, maar sê mense kan hom via sy Facebookblad kontak, hy help graag waar hy kan en sal raad gee.

Lees gerus Willie se baie interressante blog mycrazydad.com

 

 

 

 

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge