Die Boesmanlegende van Namibië

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×
Leestyd: 4 minute

Iewers in die uitgestrekte vlaktes van Namibië is daar ongekende rykdom of is dit net ‘n legende waaroor sommige swyg en baie ander droom?

Hy sou graag die Boesman verder wou uitvra, maar díé het verdwyn in die uitgestrektheid van die land…

Ben Brynard

Dankie, aan Ben Brynard en Kuiseb Delta Adventures vir die gebruik van hierdie foto.

Groot Koos Durandt was groot van gestalte. Hy het gehou van rugstring en groenboontjiebredie. Braaivleis en pap. Hy het graag een, ja net een, yskoue Windhoek Draught gedrink om die braaivleisvuur. Hy was nie ‘n drinker nie. Maar het kort-kort ‘n Lexington aangesteek, en op uitsonderlike gevalle sy krom steel pyp en BB-twak uitgegrawe en rookringe geblaas.

Groot Koos het graag gekuier om die vuur tot die kole dof begin smeul. En die kinders het op en onder komberse om die vuur gelê om na die grootmense se verhale te luister.

Groot Koos het vertel van ‘n gesprek wat hy met ‘n Boesman gehad het, jare terug. Hoe oud die Boesman was, weet hy nie, die gesiggie was te veel gekreukel. Die spore van veldlewe het swaar oor sy gelaat gelê, maar die oë het helder geflits van die opwinding van die lewe.

So het Groot Koos gereeld gepraat van die Boesmanlegende wat hom al jare ontwyk. Elke vakansie, elke beskikbare tydjie, sal hy in sy motor klim en gaan soek. Noord, oos, suid en wes, maar die meeste van die tye noord-oos – Boesmanland toe.

Ulrich Bergmann

Dankie aan Ulrich Bergmann vir die gebruik van hierdie foto.

Groot Koos het vertel die ligging van die Boesmanlegende kon hy nie lekker verstaan nie, want sy kennis van die taal was te gering. Hy sou graag die Boesman verder wou uitvra, maar díé het verdwyn in die uitgestrektheid van die land…

In sy jarelange soektog het hy later twee kleims afgebaken en geregistreer. Een noord-oos en die ander een suid-suidoos. Die een het diamante opgelewer, maar dit was baie diep en groot maatskappye sou betrek moes word, terwyl die ander een meer smaragde as diamante opgelewer het.

Maar toe sterf Groot Koos skielik aan kanker.

Maar sy stories het bly voortleef in sy kinders se gedagtes.

Een van sy dogters, *Karina, het gehou van haar pa se verhale, maar nooit gaan soek wat haar pa agtergelaat het nie.

Die lewe loop egter snaakse draaie. Karina het begin werk by ‘n kettingwinkel op Walvisbaai, waar sy vriende gemaak het met ‘n kinderlose egpaar, Don en Maria Greeff, wat gereeld die winkel besoek het vir hulle kruideniersware en vars vrugte, maar meer meestal sommer net vir die geselskap.

Op ‘n dag kry Karina ‘n oproep van Maria Greeff. Oom Don is baie siek, tannie Maria kan nie die motor bestuur nie, en sy vra Karina om ‘n paar kruideniersware na hulle huis sal bring na tjailatyd.

Karina stem dadelik in en ’n diep vriendskap begin vorm tussen die drie.

Langs Don Greeff se siekbed, word daar elke aand koffie gedrink en verhale gedeel. En so vertel Karina van haar pa en sy soektog na die Boesmanlegende.

Don kry ’n glinster in sy oë en vra sy vrou om in hulle testamentkissie ‘n brief te gaan uithaal.

Hy het vir jare in die argiewe in Pretoria gewerk, en hy was ‘n hele paar tale magtig, onder andere Duits. Don het op ‘n dag besluit hy wil die argiewe reg pak en kom toe op onoopgemaakte stukkie pos af met ‘n brief wat geskryf was deur ‘n Duitser.

Gunther, vertel in hierdie brief hy was voortvlugtig in die destydse Duitswes-Afrika en het een nag baie laat besluit hy gaan op ‘n besonderse plek oornag met veilige skuiling.

Hy was moeg en verslaap die volgende oggend tot die son hom warm uitbak.

Terwyl hy sit om sy rigting te bepaal waarheen hy moet beweeg sien hy om hom diamante en diamante. Gesaai deur die gode. Groot diamante en klein diamante. Hy skryf in sy brief hoe hy na sy asem gesnak het met opwinding en adrenalien wat deur sy are bruis. En hy begin dit optel . Net van die grotes.

Gunther skryf uit Duitsland dat hy ‘n vermoënde man is, en graag net die ligging van die plek onder iemand se aandag wil bring, daarom skryf hy die brief en pos dit na Pretoria. Hy self gaan nooit terugkeer na die land nie, hy lê op sy sterfbed en het geen erfgename het nie en hierdie geheim gaan saam met hom sterf in Duitsland.

Don Greeff oorhandig die brief aan Karina, met die woorde dat sy haar pa se droom moet gaan uitleef.

Kort daarna sterf Don Greeff en sy vrou volg hom vinnig. Hulle het net mekaar gehad.

En Karina? Het sy dit gaan soek?

“Ek verstaan Duits bietjie, en het die brief met die kaart gememoriseer, en vernietig. Wie sal ek as vrou saamneem? Wie kan ek vertrou? Ek het besef ek was al baie naby die plek en sal dit maklik weer kry. Maar miskien is dit die beste so. Laat dit ‘n Boesmanlegende bly. ‘n Plek waaroor mense soos my pa kan droom…”

*Al die name is fiktief, om die betrokke mense te beskerm.

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge