Die legende van die wit hings van die Namib

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×
Leestyd: 4 minute

Wanneer die maan vol teen die hemelruim hang en die woestyn omtooi in ‘n geheimsinnige sprokieswêreld, sal jy hom dalk sien. Die wit hings van die Namib.                                         

Aan die einde van die Walvisbaai-strandmeer, daar waar die soutbosse die heuwels liggroen tooi en die narras geil teen die sandduine groei, sal jy tussen die duine ‘n brokkelende murasie sien van ‘n eenvoudige plaashuisie…as jy nader sou gaan, en die ewige stilte van die natuur om jou indrink, sal jy miskien, as jy mooi luister, ‘n sagte tred van perdehoewe oor die sandduine hoor aankom na die murasie.

Picture1

 

Ben Smit* was ‘n eensame siel. ‘n Man van min woorde. Dit is juis die asemrowende leegheid van die Kuiseb-Delta wat hom die meeste aangetrek het. Leeg soos sy gemoed, maar onstuimend in sy wroeging in soeke na vrede vir sy siel.

Hy was geheimsinnig en die dorpenaars het draaie om hierdie man met sy min woorde geloop. Agter hulle bakhande gefluister: “Kluisenaar, glo van iewers uit die Transvaal.”

Hy het hom altyd eenkant gehou en die eenvoudige plaashuisie gebou met sy eie hande volgens sy behoeftes. Meer wou hy nie hê nie. Sy siel was vol van die stilte en die prag van die woestyn wat min mense kon raaksien.

Hy het sy lappie grond “Wortels” genoem. Hier het hy pampoene en wortels en ‘n paar wingerdstokke in die sand geplant nadat hy ‘n put gegrawe het waaruit soet bruin water opgestoot het.

Hy het rietskuilings gemaak en opgerig om skuiling te bied teen die koue suidwestelike winde en die verseggende son.

Later het Smit 6 koeie aangeskaf, en die vars melk verkoop in Walvisbaai.

Daar was weining glans in sy eenvoudige lewe. Hy was tevrede. Terwyl menigte nuwe aankomelinge in Walvisbaai jaloers was op sy ongekompliseerde bestaan.

Smit het gehoor van van ‘n wit hings wat die wildheid van die woestyn net voor ‘n donderstorm in hom gehad het. Onhanteerbaar.

Hy het ‘n paar stukke biltong, roosterkoeke en water in sy rugsak gegooi, nadat hy sy diere goed versorg het, en vertrek na Sandwich Harbour op soek na Von Broën, wie die huidige eienaar was van die hings met die wildheid in sy lyf wat geen man nog kon tem nie.

Von Broën was tevrede met die bedrag wat Ben Smit hom aanbied, maar meer tevrede omdat hy uiteindelik kon ontslae raak van die die wit hings wat hom soveel probleme veroorsaak het.

Vir dae in en dae uit was dit net man en hings in mekaar se geselskap.

Met die geduld wat Smit van die woestyn geleer het, en die rustigheid van sy stem, het hy die hings se vertroue gewen, en hom Blou Donder gedoop.

Picture2

 

Vir tien jaar was man en perd onafskeidbaar. Waar die een was, was die ander een nie te ver nie.

Met skemeraand, as die son die lug verfraai met karmosyn-skakerings, sou jy man en perd sien waar hulle die een-been-staan-flaminke dophou wat begin regmaak om nes toe te vlieg.

Teen son-op sou jy man en perd sien op die oewer van die Kuisebrivier.

En soms wanneer die maan vol teen die hemelruim hang en die woestyn omtooi in ‘n geheimsinnige sprokieswêreld sal jy die silhouette van ‘n man en ‘n perd op die hoogste duine opmerk.

Ben het nooit die pragtige hings voor die melkkarretjie ingespan nie. Daarvoor het hy die donkies gebruik. Blou Donder was sy kameraad, sy beste vriend, sy hele bestaan. En net so verknog was die hings oor sy mensevriend.

Maar ongelukkig het die noodlot ‘n einde gemaak aan hierdie rustige bestaan op Wortels.

En neem mense soms besluite wat hulle lewe onkeerbaar verander.

Die nuus van die uitbreek van die Mau-Mau gruweldade in Kenia het ook Walvisbaai bereik.

Ben Smit het skielik geroepe gevoel om sendingwerk te gaan doen onder die Mau-Mau stam in Kenia. Dit was ‘n skielike en oorhaastige besluit – wat hom werklik gejaag het, sal niemand ooit weet nie.

Hy het sy plaas net so agtergelaat. Net gereёl dat die donkies deur die munisipaliteit geskiet moet word. Nadat hy die koeie oorhaastig verkoop het aan die melkery het hy vertrek op sy nuutgevonde missie.

Die wit hings treur oor sy eienaar. Hy vertrou geen ander mens naby hom nie en verdwyn oor die sandduine die woestyn in. Dikwels keer hy terug na die watergat by Wortels en druk sy kop tussen die verrotte planke wat dit beskerm, om sy dors te les.

Vir die volgende dekade word Blou Donder soms opgemerk deur verbygangers waar hy na die flaminke staan en kyk wanneer die lug in karmosyn-kleure geskilder word deur die ondergaande son. Of iemand sou hom opmerk waar hy op die oewer van die Kuisebrivier gallop. En soms, met volmaan sal hulle hom sien staan bo-op die hoogste duin!

Op ‘n dag was Ben Smit terug in Walvisbaai. En hy begin dadelik soek na Blou Donder.

Hy spoor ‘n wilde wit hings op in ‘n vlei en probeer die perd vang met sag gebreide rieme.

Die perd baklei wild teen die rieme en in die gespook tussen mens en dier, word die wit hings se nek gebreek en die wildheid versag in die wit hings se oë…

‘n Gebroke man stap weg van ‘n vars graf…blink nat traanspore is sigbaar op sy stofbesmeerde wange.

Die maan hang vanaand vol teen die hemelruim, die woestyn is omtooi in ‘n geheimsinnige sprokies wêreld. Op die hoogste duin staan ‘n spierwit hings en die windjie speel deur sy lang wit maanhare.

(Hierdie is ‘n verwerkte weergawe van die verhaal soos verskyn in die Namib Times van 15 November 1963 – en dankie aan Fanie du Preez van Kuiseb Delta Adventures wat VroetelVoete se aandag gevestig het op hierdie besonderse verhaal. Gaan loer op hulle Facebookblad  waar jy die feitlike verhaal kan gaan lees in engels).

Picture3

 

Die werklik huis van Von Broën – soos geneem deur Mike Lloyd – baie dankie vir die gebruik van die foto. En ook aan Ben Brynard vir die foto van die huis na ‘n storm.

 

*Ben Smit is ‘n fiktiewe naam, omdat niemand meer weet wat die naam is van die man wat die Legendariese Wit hings van die Namib kon tem nie.

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge