Gepla met die maan? Nee, Barry Dumas is ‘n man van feite!

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×
Leestyd: 4 minute

Hy kyk my eers wantrouig aan toe ek hom by die hek ontmoet. Ek sukkel al lank om hom in die hande te kry.

Die mense sê hy is nie baie spraaksaam nie. Ek vertel hom hoekom ek daar is.

Toe ons eers om die tafel sit met ‘n heerlike glas koue koeldrank wat sy vrou, Miemie, vir ons voorgesit het, begin hy gesels.

Aardverwarming. Droogtes. Prehistoriese water. Oplossings wat die land nie na kyk nie. Die vlak van die see water wat nooit sal styg nie. En uiteindelik die sterre – die rede hoekom ek hier is.

Barry Dumas (77) is ‘n man wat hou van feite, feite, feite.

Hy wil weet. Hy lees. Hy ondersoek. Hy krap. Hy snuffel, maar is met niks minder tevrede as feite!

Hy sal kilometers aflê om feite te gaan soek. Hy doen eksperimente. Vroulief kla reeds dat haar yskas vol klippe lê… nog ‘n eksperiment in wording!

Maar hy weet waarvan hy praat.

Barry Dumas Sterre

Miemie, vertel; “In hierdie huis, as jy kom kuier, veral sy kinders, word daar nie gevra hoe dit gaan nie?”

Nee, dit begin; “Het jy gelees of het jy gehoor…” en dan word een of ander onderwerp wat van internasionale belang, druk bespreek. En dit hou aan tot laat nag of tot daar ‘n oplossing gevind word.

Hy beskryf homself as ‘n perfeksionis en hy is sy eie grootste kritikus.

Sy vrou Miemie sê hy is haar MacGyver, want hy bou, breek, beplan, ontwerp en doen alles in en om die huis met dieselfde kritiese presisie waarmee hy enige taak sal voltooi.

Sterre 2

Barry, gebore in Kaapstad, se belangstelling in die sterre is saam met hom gebore. Dit is sy passie.

In die destydse Standerd 6 (Graad 8) moes hulle twintig Afrikaanse en twintig Engelse storieboeke lees. Barry lees toe veertig boeke wat gaan oor die sterre. Boeke gebaseer op feite (tot die inspekteur van skole se skok).

En dit is hier waar sy passie vir die sterre, in alle erns, posvat.

Graad 11, verhuis sy ouers na Daniëlskuil in die Karoo. Hier is die sterre nog nader en helderder. En daar is geen stadsligte.

En begin Barry te speel met teleskope en foto’s van die maan.

Met sy ma se Agfa kameratjie neem hy sy eerste volmaan foto op Daniëlskuil.

Sy vrou en kinders deel sy passie (en met so ‘n lewendige belangstelling sou Barry ‘n koshuis vol kinders kon oorreed om lief te word vir die kosmos). Sy dogter Amanda, het tot so ver gegaan om vir hom ‘n ster te koop sodat dit na hom vernoem kan word.

Sterre 3

Hier is die kosmoskaart waar jy Barry se ster sal sien flonker.

Dit is nie net die operasangeres Mimi Coertse wat spog met ‘n ster wat na haar vernoem is nie; in 2002 is ‘n ster, voorheen bekend as Sagittarius RA 18h 56m 14,74,39’s DZ25Vsu0W, na haar genoem.

Sterre 4

Barry Dumas neem sy stokperdjie ernstig op.

Hy het agter sy huis ‘n woonstelletjie omskep in Archer Observatory.

Hier spandeer hy baie ure in die nag. Hy is ook ‘n kranige fotograaf en van sy foto’s is al in boeke gepubliseer.

Sterre 5

Hy het die dak van Archer Observatory self ontwerp, en dit het baie mannekrag geneem om dit te voltooi.

Die dak skuif sekuur oor mekaar om nie stof of vog deur te laat nie. En hy het dit alles self gebou. Die houtwerk. Die betonpilaar waarop die teleskoop gemonteer is (stewig geanker onder in die motorhuis sodat geen stortings ‘n steurnis kan wees as Barry na die sterre kyk en homself vir seker van die feite van die kosmos nie).

Sterre 9

Barry Dumas is ‘n man van feite, met sy voete grondvas op moeder aarde en sy oë gerig na die kosmos, een van die mees interessante mense wat ek al ontmoet het.

En wie weet, dalk skryf hy ‘n artikel of twee vir VroetelVoete, en deel ‘n paar feite.

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge