Vat so, rommel! Hierdie 10-jarige het GROOT drome

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×
Leestyd: 5 minute

Dit is jongmense soos Rayhan Kleyn wat die land nodig het. Dit is kinders soos hy wat die anker word van die toekoms. Wat mense hoop gee.

Die woord “tou- opgooi” bestaan nie in sy woordeskat nie. Hy is standvastig, hardwerkend en doelgerig! En hy het ‘n boodskap vir die wêreld.

a

Hy laat nie toe dat struikelblokke sy drome verydel nie. Hy Google vir antwoorde as sy ma en pa nie weet nie.

Hy is ‘n talentvolle, dog sagte jong man, maar met ‘n uitkyk op die lewe wat min volwassenes het. Hy het die WIL om bo uit te kom. Hy is vol idees en planne. En dit bly nie net by lugkastele wat gebou en met reënboogkleure geverf moet word nie.

Aikona.

Dit moet gebou word, met fondasies wat nie kan wankel voor enige storm, tsunami, sikloon of aardbewing nie. Net soos die Bybel sê: doen hy eers sy berekeninge voor hy sy toring bou.

Rayhan, is ‘n graad 5 leerder aan Laerskool de Tyger in Parow. En trots op sy skool.

Na matriek wil hy graag na ‘n landbouskool gaan.

Hy hou van tuinmaak, en is gek oor wiskunde en speel ook krieket. Maar dit is nie al nie! Gaan jy Sondae na die Soter Familie Gemeente in Parow, sal jy hierdie jong entrepreneur opmerk agter die bongo’s van die orkes!

Ons ontmoet Rayhan op ‘n bloedige Saterdagmiddag. Die weervoorspellers het gesê dit is die warmste dag in Kaapstad. Die kraaie het nie eers die krag om te gaap nie. Dit is stil warm.
Geen blaartjie wat iewers roer nie. Selfs die miere stap sleepvoet na die naaste skaduwee.

Rayhan wag ons reeds in by die hek. Geklee in sy uniform wat hy self gekoop het met die salaris wat hy vir homself genereer. Die warmte affekteer hom glad nie, daarvoor skitter sy oë van pure opgewondenheid en ingehoue pret.

Vandag gaan hy wys hoe hy te werk gaan. Ons vertrek saam met hom en ma Renè op vandag se roete. As ma Renè nie kan ry nie, sal pa Anton ry, of Anneke (21), Rayhan se sussie.

Hy het reeds twintig kliënte, maar vandag is daar sewe optelpunte. Die roete is reeds bepaal, nadat vasgestel is wie se sakke vol is.

b
Gewapen met ‘n rol deurskynende herwinningsakke loop hy met ‘n skryfblok en pen waarop almal se name geskryf is waar ons moet stop. Naam en straat adres en as ons klaar is, word hulle sorgvuldig afgemerk.

Dit is beurtkrag, en baie van die kliënte se klokkies by hulle hekke werk nie, en Renè moet inspring om hulle te skakel om te sê Rayhan wag reeds voor die hek.

c

Terwyl ons wag vir Rayhan om die vol sakke in te laai, en sy kliënt te voorsien met ‘n nuwe sak, vertel Renè dat dit nie sy eerste besigheid is nie, hy het ook al ‘n snoepie gehad by ‘n ouetehuis.

Maar in September 2019 hy het besluit dit is tyd om mense bewus te maak van herwinning!

Ons vra Rayhan, hoekom juis herwinning?

“Om by te dra om die aarde te red van al die besoedeling van gebruikte plastiek, glas en metaal.”

Rayhan vertel hy wil graat groot gaan. Met ‘n pakhuis en alles wat daarmee gepaard gaan.

Sy familie deel sy passie. Renè vertel met trots: “Dit is ‘n ouer se voorreg om te sien hoe haar kind dit geniet en groei op verskillende vlakke. As sy ouers wil ons graag sy energie positief kanaliseer en sy idees ondersteun. Sy herwinningsinisiatief is sy trots en hy floreer. Hy sit ongelooflik baie werk daarin en kry resultate.”

Waar het dit alles begin?

“Tydens ‘n jeugbyeenkoms by die kerk in 2019 het die kinders “eco bricks” gemaak. Dit het Rayhan laat besef hoe groot die inpak van gebruikte plastiek is en die feit dat een persoon ‘n verskil kan maak. Hy het op die internet na verskaffers gesoek waar hy groot sakke kon aanknoop om te gebruik vir die sortering van die gebruikte produkte. Hy het afgekom op Dynamic Bags in Moorreesburg, en hulle was so vriendelik om die yslike groot sakke gratis af te lewer in die Kaap! Toe moet daar gesoek word op die internet na ‘n firma wat die herwonbare materiaal kan ontvang en hom daarvoor vergoed,” vertel Renè.

Rayhan en sy ma het koppe bymekaar gesit om ‘n logo te ontwerp wat hulle dan op die gemeenskap van Parow-noord se Telegram groep geadverteer het.

IMG-20200208-WA0037

Wil jy graag herwin en Rayhan help in sy droom?.
1. Registreer via SMS na die gegewe selfoon nommer.
2. Rayhan sal ‘n sak aan jou tuis kom verskaf.
3. Plaas plastiek /glas/ metaal in die sak gedurende die week.
4. Op ‘n Vrydagaand stuur Rayhan se ma ‘n SMS na al die geregistreerde kliënte en dui aan watter tyd hy die volgende dag die vol sakke sal kom optel.
5. Kliënte laat weet dan per SMS of hulle sak vol is en opgetel moet word, al dan nie.
6. Rayhan stel ‘n roete op, gebasseer op watter kliënte se sakke opgetel moet word.
7. Op Saterdag ry Ma of Pa en Rayhan (geklee in sy oorpak en handskoene) met die bakkie, tel die vol sakke op en voorsien die kliënt weer van ‘n nuwe sak.
8. Rayhan sorteer die items volgens kriteria by die huis. (Ons het ook geleer dat plastiekbottels onder kodes gesorteer moet word.)
9. Sodra die sakke vol is, word dit na die firma aangery wat dit per kilogram by hom aankoop. Met hierdie geldjies koop hy weer sakke aan en die res word gespaar.

Dit het al gebeur dat ‘n sleepwa gehuur moes word om al die sakke by die aflaaipunt te kry.

Is daar iets wat hy graag vir mense sal wil sê wat NIE herwin nie?

“STOP, think twice! Recycling is very nice!” antwoord hy dadelik.

“Mense moet asseblief leer om te herwin.”

IMG_6092 (2)

Rayhan Kleyn, suksesvolle entrepreneur. Slegs 10 jaar oud maar met die wil van ‘n man en die hart van ‘n held, om ‘n verskil te maak.

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge