’n Komberswinkel in Clarens

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Om ‘n komberswinkel te besoek was een van die laaste dinge wat ek ooit gedink het ek sal doen in Clarens, maar daar staan ek toe, op die stoep van ‘n komberswinkel in die Vrystaat en stap met veel meer uit as net ‘n stuk warm materiaal.

Aan die voetheuwels van die Malutiberge, ‘n entjie duskant die Golden Gate Hoogland Nasionale Park, is die dorpie Clarens waar sandsteenhuise ‘n eeu of wat al pronk. Hierdie Vrystaathoekie is nie noodwendig op die oorsese toeriste se lysie van doendinge nie, maar jaar in en jaar uit stroom Suid-Afrikaners na Clarens vir kuns, berge, bierproe en avontuur.

clarens blanket shop

Hoe dan anders?

Clarens bied iets vir die avontuurlustiges, die rustiges en die kunssinniges.

As jy wonder waar ‘n komberswinkel tussen al die noemenswaardige brosjure-dinge inpas, dan lê die antwoord by die klein huisie in Naauwpoortstraat, weg van die gewoel.

blanketshop11

Dit was een van daardie dae wat mens kan merk as “toevallig”. Die een oomblik neem ek foto’s van Populierbome en herfsblare en toe staan ek op die stoep van Clarens se “Blanket Shop” waar tannie Gertie my inwag agter ‘n toonbank van niekerbolle, kougom en appelkosies.

“Môre”, kom die stem met oë wat opkyk.

In die winkel is daar is klere, lekkers en ‘n paar ander algemene items wat lyk of dit al vir jare daar staan. Ek sal seker nie lank vertoef nie.

“Môre Tannie, ek sien Tannie verkoop pottebakerskuns. Kan ek maar loer? O, ja en komberse”.

“Ja, kom deur”, sê sy terwyl sy agter die toonbank uitskuif en my lei na die agterste vertrek.

Die komberse staan van vloer tot dak gepak; patrone in blou, oranje, swart, rooi en geel speel met jou oë. Híér kry niemand koud nie.

“Nou ja, moet ek jou meer vertel van die komberse”, sêvra sy met afwagtende hande op die tafelblad.

Wat is daar aan ‘n kombers wat vertel kan word wonder ek stil-stil terwyl ek knikkend “ja” antwoord.

Binne die eerste drie minute van tannie Gertie se kombersstories antwoord ek sommer myself.

Daar is baie meer aan dié komberse as net ‘n stuk warm materiaal.

Elke patroon en kleur het ‘n storie. Dié een verteenwoordig iets van die Engeland, daai een eer die geboorte van die Basotho Prins Lerotholi en ‘n ander kombers verteenwoordig ‘n spiraalaalwyn wat slegs in die Malutiberge gevind word. Die komberse word van lamswol gemaak, is dig geweef en hou alles uit wat nat en koud is.  Die kulturele waarde en geskiedenis gaan donkiejare terug; destyds is die komberse slegs gemaak in Engeland, maar vandag word dit plaaslik vervaardig en bly steeds getrou aan die simbole van ouds.

blanketshop

Tannie Gertie gryp die een na die ander kombers van die rak af. So tussendeur elke Basotho kombers vertel sy, soos ‘n ensiklopedie, stories oor die geskiedenis van Clarens, die befaamde Titanic-rotsformasie en wys waar boere hul perde afgesaal het in 19-toet tydens die kerkdienste. Lank terug het die komberswinkel bekend gestaan as ‘n algemene handelaar en vandag is Tannie Gertie en haar suster (tannie Minnie) steeds in beheer van die winkel wat hul pa begin het in die 1940s.

blanketshop2

Sy vertel dat dit ‘n trotse affêre is om ‘n Basotho kombers te dra. Mylpale word swierlik hiermee gevier; ‘n Motlotlehi kombers word gedra deur die bruidegom op sy troudag en met die geboorte van ‘n paartjie se eersteling kry die ma ‘n Serope kombers. Elke kombers kom ook met ‘n speld en sy laat jou vinnig verstaan dat jy nie ‘n nuwe kombers dra met ‘n ou speld nie.

blanketshop4

Met elke woord hang ek aan die Tannie se lippe.

Sy kan vlot Sotho praat. Sonder moeite, sommer so van geboorte af sê sy.

Die son begin sak, al hoe laer, en die dag kom vinnig tot op ‘n einde. Ek wil nie loop nie, maar ek moet.

Dit is hoekom ek reis; vir die mense, die stories en die dinge wat nie op blink brosjure blaatjies gedruk is nie.

So met die groet kom tannie Minnie daar aan en ek vertoef en gesels nog ‘n paar minute voor ek weg stap met ‘n kombers, ‘n nuwe speld en ‘n niekerbol in my kies.

clarens

Vrywaring: Die storie is van my eerste besoek aan The Blanket Shop (Mei 2015), maar die foto’s is geneem tydens my tweede besoek (September 2015) wat deel uitgemaak het van ‘n toer saam met Suid-Afrikaanse Toerisme.

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge