‘n Luukse Addo-bederfie: Nyathi Ruskamp

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×
Leestyd: 6 minute

Op Port Elizabeth se voorstoep, en selfs by haar agterdeur, staan Addo Olifant Nasionale Park breëbors getooi van kop tot stert in groen spekboomblare. Die veld wemel met koedoes en sebras terwyl vlakvarke flankeer met die kamera, boude in die lug, knieë op die grond en snoet in die aarde.

Nyathi Addo

Addo Nasionale Park is vir vele ’n vinnige naweekwegbreek, of selfs sommer ’n dagbesoek, weens die toeganklikheid van die park; een oomblik groet jy nog die stad op ‘n dubbelbaan-snelweg en die volgende oomblik staan ’n olifantbul en boude swaai in die pad voor jou. Baaienaars en gereelde besoekers ken die park op ’n eerstenaambasis, hulle noem hom ‘Addo’, en terwyl ‘Addo’ volgens padkaart en naambord ook eintlik verwys na die dorp waai alle formaliteite by die venster uit wanneer hul met trots spog en praat oor hul geliefde buurman. En gee jy die trots nog ’n spreekbeurt dan sal jy ook vinnig hoor dat híér kry jy nie net die groot vyf nie, maar ook die groot sewe: leeu, luiperd, olifant, buffel, renoster, groot withaai en die Suidelike noorkapper (walvis).

Die laaste twee van die groot sewe laat gewoonlik ’n groot frons op gesigte, veral as die olifant nogsteeds boude swaai in die pad voor hulle; windverwaaid en deurmekaar word daar dan vinnig rondgekyk terwyl hul probeer sin maak van die Addo-som: groot vyf + twee = groot sewe.

Maar Addo Olifant Nasionale Park se grense lê veel wyer as wat selfs die gereelde besoeker dink.

Nyathi VroetelVoete 8

Addo, meer as net olifante

Na ’n geskiedenis van olifantjag vir ivoor in die vroeë 1700s was daar slegs 11 olifante oor toe die area van bietjie meer as 2000 hektaar in 1925 as ’n amptelike Nasionale Park verklaar is. In 1978 het die eerste toeriste deur die park gery toe die olifantpopulasie ongeveer 100 was en vandag is daar meer as 600 olifante. Addo Nasionale Park is alles en selfs ’n bietjie meer; as Suid-Afrika se derde grootste park bestaan hierdie Oos-Kaapse meneer uit meer as 178 000 hektaar van nie net veldparadys nie, maar ook bosparadys en seeparadys wat oor vyf van Suid-Afrika se sewe biome strek, insluitend ’n 80 km strook van ongerepte sandduine.

Of jy nou jou kop agteroor wil gooi al soekend na die rooi vlerke van ’n Knysna Loerie en óf jy wil ervaar hoe ’n leeu ’n koedoe plattrek óf wil sien hoe ’n pikkewyn al waggelend rondplons, hierdie park is alles en selfs ’n bietjie meer en sy diversiteit stop nie by sy fauna en flora nie.

Nyathi VroetelVoete 3

Die omgewing van Addo is ook ’n mekka vir avontuurlustiges met bergfietsroetes, diep dongas vir 4×4 entoesiaste in die Kabouga area, ’n wandelpad of twee vir die dapper stappers by Zuurberg en Alexandrië asook wildritte te perd.

Maar natuurlik is daar meer en daar lê vele doendinge vir oud en jonk ook buite die grense van die Nasionale Park.

As hoogtes en spoed deur jou avontuur-are loop moet jy stop by Adrenalin Addo wat slegs ’n paar kilometer buite die Park se hoofhek geleë is in die rigting van Kirkwood. Hier kan jy teen die vinnige spoed van tot en met 80 km/u gly op ’n lyn wat 500 meter lank en 65 meter hoog is; dit is ook ’n dubbele glylyn so vrou, kind of kraai kan saam met jou gil en gly. As jy soek na nog, wat van ’n reuse swaai waar jy die klippie word in ’n massiewe mense-kettie en klou vir al wat leef 18 meter hoog in die lug voor die swaai jou vorentoe skiet? En vir diegene wat liewer bang Jan as dooie Jan is, is daar ook die opsie om met ’n kanoe af te roei in die Sondagsrivier in.

Dit is onmoontlik om avontuur te ontsnap. Slegs 5 minute se ry vanaf die Park se Suidelike hek, Mathyolweni , lê van die grootse sandduine in Suid-Afrika wat smeek vir ’n klim, ’n gly en ’n tuimelande val. Sundays River Adventures bied ’n verskeidenheid van aktwiteite aan soos sandboarding, watersport en bootritte, asook die opsie om te oornag op ’n huisboot op die Sondagsrivier. In die begin lê die kuns van sandboarding soos ’n massiewe wit berg (oftewel duin) voor jou; jy probeer en skaterlag na ’n balans-oepsie en ’n sagte landing, maar voor jy die sand uit jou oë kan vee gooi jy die sandbord onder die arm and marsjeer die duin op en probeer weer.

Nyathi VroeteVoete 1

Nelson Mandelabaai Toerisme bied ook verskeie passe aan waarmee jy vele aktiwiteite kan geniet, soos ’n glylyn-ervaring of ’n bootrit, teen slegs een prys te betaal.

Bly ’n rukkie

Jy kan tuisgaan in die hoofkamp waar safari-tente, kampstaanplekke, chalets en kothuise wag. Jy kan selfs ’n nag spandeer in die Spekboomtente wat binne in ’n afgekampte gebied is in die middel van die wildkykarea. As jy smag na totale afsondering skreeu Narina boskamp jou naam, hierdie Eskomvrye tentekamp is ongeveer 25 km van die hoofkamp en kan ook per perd bereik word as jou lieste reg is vir ’n voldagrit. Diegene met bosbrekers en groot wiele sal die 4×4 Bedrogfontein roete geniet tussen Kabouga en Darlington en kan tuisgaan in die Kabouga tweeslaapkamer plaashuis wat geskik is vir 6 persone. Vir ’n boservaring, en iets anders, oornag in die Langebos hutte in die park se Woody Cape afdeling waar ’n ryk voëllewe, inheemse bos en bosbokke vir jou wag.

Nyathi VroetelVoete 7

As gasstofies en kampmatrasse nie jou idee van onstpan is nie, is daar ook drie privaat en eksklusiewe oornagplekke binne die grense van die park, Gorah Elephant Camp, River Bend Lodge en Kuzuko Lodge waar Sylvester, die leeu met swerwerslus, tuisgaan.

Maar natuurlik is dit nie al nie; Nyathi Ruskamp is die nuutste akkommodasie toevoeging tot die Addo familie.

Nyathi Ruskamp, Addo se nuutse laaitie

Nyathi Ruskamp is amptelik geopen gedurende die SANParke opeweek in September 2016, maar hierdie splinternuwe luukse 4-ster kamp is maar nog net ‘n paar maande oop vir besprekings. Die 11 toegeruste selfsorgeenhede, wat wissel van 1 tot 3 slaapkamers per eenheid, is 12km van die hoofkamp en bied uitsigte oor ’n vloedvlakte met berge, stilte, sterre en diere. Die Nyathi afdeling is ryk in wild, van sebra tot olifant, van leeu tot eland en hier kan jy wildkyk vanaf ’n dek wat uitkyk oor ’n watergat. Maar, dit is nie al nie. Jy kan ook wildkyk vanaf die gerieflikheid van jou eksklusiewe rondawel se bed, of vanuit die badkmer met sy groot ronde bad met koperafwerkings en glasdeure wat oopmaak op die dek, of vanaf die braaiplek, of, om die luuksheid net ’n tikkie verder te vat, vanuit jou privaatswembad. Ja, dit is reg, elke liewe eenheid in Nyathi Ruskamp het sy eie swembad vir ’n rondplons en afkoel op daardie warm dae.

Nyathi ruskamp

Wat hierdie nuwe toevoeging in Addo so spesiaal maak is nie net die ruim kamers en luukse afwerkings nie, maar ook die toeganklikheid en bekostigbaarheid. Nyathi is die perfekte keuse vir ’n wegbreek as jy ’n bietjie bederf en fênsie wil voel met jou eie swembad; die toegeruste kombuis, braaiplek en die feit dat jy steeds met jou eie voertuig op ’n wildrit kan gaan in die hoofkamp maak Nyathi Ruskamp ’n wilde wenner sonder dat dit nodig is om jou bankbestuurder te raadpleeg.

Nyathi VroeteVoete 6

Maar, in tipiese Addo-styl, is dit natuurlik nie al nie. Besoek Addo Nasionale Park en ontdek alles en selfs nog ’n bietjie meer.

Vir inligting en pryse, gaan na www.sanparks.org.

Kyk hierdie video om ‘n idee te kry van wat jy kan doen in en om Addo Olifant Nasionale Park.

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge