Op die Weskuspad na Piekenierskloof

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

As jy die kaart van Suid-Afrika onder ’n vergrootglas sit spring die Weskus-spikkels vinnig na vore en nog voor die menigte vissersdorpies jou oog vang besef jy hierdie spikkels lê wyer as slegs bokkoms, blomme en bote.

Om elke hoek en draai is daar ’n ongerepte stukkie aarde met ’n mengelmoes van kultuur. Die natuurwonders slaan jou asem weg, landskappe van berg tot see groet jou langs die pad en avonture wag jou geesdriftig in.

IMG_3114

Die beste manier om die diversiteit van die Weskus-spikkels te ontdek is om voet in die hoek te sit en een, twee of sommer al vier van die West Coast Way se roetes te verken. So waar soos sout op bokkoms, daar was nog nooit ‘n makliker manier om die beste van die Weste te geniet nie en met hierdie roetes gaan daar geen krieseltjie van die Weskus verlore nie.

Loer na die roetes…

copyright-West-coast-way-Routes-2016-web-03

Foto met toestemming van www.westcoastway.co.za.

 

Vir ’n egte Suid-Afrikaanse kultuur-inspuiting volg die West Coast Way Culture Route (Kultuuroete) wat jou vinnig-vinnig uit die stad sal lei met die R27; hierdie roete sal jou vat van Melkbos tot Mamre tot geskiedenis, staaltjies en meer. Een van die nuwe roetes, die West Coast Way Scenic Route, vat jou deur die Weskus se prentjiemooi landskappe en sluit aan by die liplekker West Coast Way Foodie Route wat seker maak jy ervaar die Weskus happie vir happie; van kreefbraai tot boerekos. Nog ’n nuwe roete is die West Coast Way Berg Route wat jou neem deur berge en dale, passe en valleie.

20160418_172403-01

Die West Coast Way Berg Route is maklik en vinnig bereikbaar as jy die N7 uit die stad volg. Hierdie sirkelroete kronkel langs die koringlande, deur die berge en verby die vrugteboorde tot by Elandsbaai en Dwarskersbos waar visserskuitjies rustig op die water dobber. In die middel van die Bergroete is Aurora geleë wat beskou word as die middelpunt van die heelal nadat Abbé Nicolas de le Caille ’n sterrewag opgerig het in die 18de eeu. Maar sterrekyk is nie al wat Aurora bied nie, hierdie dorp spog ook met ’n hele paar bekende restaurante, Sandveldblomme asook ’n pragtige kerk.

Tussen Eendekuil en Citrusdal pronk die Piekenierskloofpas met rooibosplantasies, unieke padstalle en een van sy mooiste mensgemaakte gesigte: die Piekenierskloof Mountain Resort.

Piekenierskloof Bergoord

Die Piekenierskloof Bergoord lê knus in die arms van die Olifantsriviervallei en is ’n vinnige japtrap 2-ure rit van die Kaap af wat dit die ideale wegbreek maak vir Kapenaars, die lang pad reisigers, families, konferensie- en besigheidsbesoekers asook Cederberg-avontuursoekers.

IMG_3323

Die 4-ster oord bied jou alles en meer en hul oortref alle verwagtinge met hul gasvryheid, heerlike disse, pragtige kamers, die romantiese wittebrood-suite, alomteenwoordige rustigheid, vermaaklikhede en familie-vriendelike fasiliteite. ’n Klassieke elegante styl is sigbaar van binne tot buite, van vloer tot plafon. Die dekor vind die perfekte balans tussen modern en aards en val ritmies in by die algehele beeld van die oord. Die kamers is toegerus met pragtige linne, ’n televisie, lugverkoeling, moderne badkamers, ’n mikrogolf, ‘n yskas asook fasiliteite vir die maak van koffie en tee. Piekenierskloof het ook rolstoel-vriendelike kamers met rolstoelpaadjies om toeganklikheid moontlik te maak in en om die oord.

IMG_3141

Híér kan jy nogal vassteek en vertoef, óf jy nou rustig wil verkeer óf jou energievlakke wil opjaag met avontuur-aktiwiteite, dit is ’n plek enig in sy soort waar jy in die natuur kan ontspan. Piekenierskloof bied gaste die geleentheid om die hoogtes uit te vaar met ’n Foefie Slide en die kronkelpaaie en berge aan te durf met ’n bergfiets. Gaste kan ook kompeterend raak op die mini-gholfbaan en selfs die brein aan die gang hou met ’n reuse skaakspel terwyl kinders baljaar op klimrame, swaaie en die wet van gravitasie definieer op die trampolien. Vir die swemmers en sonbaaiers is daar ’n lieflike swembad met ’n pragtige uitsig oor Citrusdal, luilekker lêbeddens, koeltekolle asook ’n binnehuise verhitte swembad.

piek

Piekenierskloof Bergoord bied soveel vermaaklikhede, maar die oord is ook sentraal genoeg geleë vir diegene wat graag die nabye omgewing en die ander stoppe op die West Coast Way Berg Route wil verken op daguitstappies. Besoekers kan die pad vat na Veldrif, Laaiplek, Port Owen, Dwarskersbos Rocherplan Natuurreservaat, Elandsbaai, Aurora, Redelinghuys, Velorenvlei, Eendekuil, Citrusdal, Porterville, Piketberg, Goedverwacht en Wittewater.

IMG_3358-01

Kloof Restaurant

Piekenierskloof se Kloof Restaurant is die kersie op die koek en na een ete hier bly jy nie sommer weg nie.  Die bobaas-disse en verskeidenheid van plaaslike wyne val gemaklik in by die oord se klassieke styl en bied ’n elegante balans tussen smake en geure. Hier word kos voorberei met passie en perfeksie en voorgesit met detail en prag. Vir ’n voorgereg, smul weg aan hul Bobotie Loempias (spring rolls) of die gebakte Brie Kaas met bessiesous, maar hou ’n definitiewe gaatjie vir ’n bielie van ’n burger of die geurige biefstuk met knoffelbotter. En as jy jou ete wil afsluit op ’n hoë soet noot, geniet Piekenierskloof se bekende bruintjies saam met ’n koppie boeretroos of dit waarvoor die area so bekend is, rooibostee!

Piekenierskloof

Vertoef ’n bietjie, hoekom dan nou nie?

Om Piekenierskloof mis te ry is nie ’n opsie nie. Die Bergroete van West Coast Way moedig jou juis aan om op die onbekende paaie te gaan en stil te hou en uit te klim by die plekke waar jy net verby sou ry.

Maak ‘n plan: VAT DIE PAD en vertoef by Piekenierskloof. Breek ‘n bietjie weg, bederf daardie spesiale persoon in jou lewe, bring die kinders, skakel af, raak avontuurlustig en geniet die rustigheid van die Olifantsriviervallei.

Waarvoor wag jy?

Piekenierskloof Bergoord is op die N7, 169 km van Kaapstad en net duskant Citrusdal.

Kontak: (Besprekings) +27 (0)22 921 3574  | pkloof@dreamresorts.co.za vir meer inligting.

Vrywaring: Ek was ‘n gas van Piekenierskloof Mountain Resort; alle opinies op hierdie blog is my eie en gebaseer op my persoonlike ervaringe.

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge