Pilcrow & Cleaver, ‘n nuwe paragraaf van kos vir Kaapstad

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×
Leestyd: 3 minute

As jy Pilcrow & Cleaver se Facebookblad dophou, water jou mond sommer as jy net na die foto’s van die geregte kyk: kleurvol, met soveel detail, geur en kombinasies.

Dit is juis die foto van die chocolate chip cookie met milk jam (ja, jy het reg gelees, melkkonfyt) wat my aandag getrek het. En toe ek hoor dat dit soos ‘n ma se drukkie proe was daar onmiddellik besluit dat VroetelVoete meer moet gaan uitvind oor hierdie restaurant wat eersdaags sy deure oopmaak in die hartjie van Kaapstad.

Pilcrow & Cleaver

Wat die restaurant baie uniek maak, afgesien van die liplekker disse wat bedien gaan word, is dat daar geen kelners gaan wees om jou te bedien nie. Nee, in hierdie restaurant met sy muurlose-geen-deur kombuis, kom sit jy aan tafel en praat sommer direk met die sjef.

Ons gesels met Judi Fourie (32) wat hierdie baie interessante restaurant gaan oopmaak in Parlementstraat in Kaapstad.

“Dit gaan ‘n persoonlike en unieke ervaring wees vir ons gaste. Jy kan die sjef vrae vra oor die gereg wat voor jou oë gemaak word, terwyl jy teug aan trots Suid-Afrikaanse wyne.” vertel Judi opgewonde.

En sy brei verder uit oor hierdie raar restaurantkonsep in Suid-Afrika, “Daar sal omtrent drie sjefs aan diens wees per skof. Afhangende van hoe besig die restaurant gaan raak.”

Judi, die eienaar en sjef van Pilcrow & Cleaver is in Johannesburg gebore, maar het grootgeword in die Boland. Kos het haar reeds van ‘n jong ouderdom af begin prikkel; terwyl kinders gewoonlik oe-en-ah oor nuwe speelgoed, het sy graag by haar maatjies gaan speel om te sien watter kos hulle gaan eet.

Sy vertel dat haar hele familie hou van lekker kos, maar dit is veral haar pa wat haar passie deel.

Pilcrow & Cleaver

Maar dit was so amper-amper of hierdie sjef het met ‘n skalpel in haar hand opgeëindig in plaas van ‘n sjefmes.

“Ek is, glo dit as jy wil, aanvaar vir medies en het dit amper gestudeer, maar my liefde vir kos het die oorhand gekry. Gelukkig het ek dit vroeg genoeg besef en myself gaan inskryf by Silwood School of Cookery,” sê Judi wat wyd en suid gereis het vir tien jaar opsoek en op proe na eksotiese geure.

Maar hierdie sjef ken nie van stilsit nie, haar hande staan vir niks verkeerd. Kry sy ooit tyd vir ander dinge?

“Ja, behalwe vir kook, doen ek joga, lees, brei en hekel! En dan het ek dierekinders wat my aandag opeis: Zeus, my Pit bull en Tobi Moon, ‘n Jack Russel, en die baba van die huis wat nog net vyf maande oud is!”

Pilcrow & Cleaver

Pilcrow & Cleaver is iets nuut

Die etos van die restaurant weergalm in die naam. Pilcrow (¶), is die teken wat ‘n nuwe paragraaf simboliseer en Cleaver verteenwoordig kos. Die kos wat jy elke dag geniet is ‘n nuwe paragraaf in jou lewe, en die kos wat bedien gaan word in die restaurant verander elke paar dae; daar is altyd iets opwindend en nuut om die draai, op die stoof en in die bord.

“Die spyskaart verander weekliks, maar as gaste van iets hou wat ons ‘n paar weke terug gemaak het kan ons altyd ‘n plan maak,” vertel Judi.

En dit is goeie nuus, want daardie sjokolade-koekies-met-ma-se-drukkie-en-melkkonfyt is beslis iets wat mens meer as een keer moet probeer.

Maar dit is nie al nie.

Pilcrow & Cleaver gaan ‘n biblioteekwinkel hê met kookboeke vir deurblaai of wat jy saam met jou kan huis toe vat. En nie die gewone boeke wat jy in winkels gaan raakloop nie — nee nee — hierdie boeke is versamelaarsitems. Daar sal ook tuisgemaakte marmelade, ingelegde lekker-dinge en items vir jou kombuis soos voorskote, te koop aangebied word.

En om te dink hierdie sjef sou so ampertjies pille voorgeskryf het in plaas van die heerlik disse wat sy nou voorsit.

Kaapstad, is julle reg vir hierdie unieke en raar restaurantkonsep?

Volg gerus Pilcrow & Cleaver se Facebookblad en sien vir jouself wat wag vir die Moederstad wanneer hierdie restaurant se deure oopmaak.

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge