Pilcrow & Cleaver: ‘n Plek waar jy jou bord wil uitlek!

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×
Leestyd: 4 minute

Pilcrow & Cleaver: ‘n avontuurlustige smaaksensasie wat prentjiemooi voor jou neergesit word, en vir ewig vasgevang word in jou menswees.

Dit was reeds van die eerste dag wat ek hierdie naam raakgesien het op Facebook dat dit my gefassineer het. Maar toe ek die foto sien van die Milk Jam en Chocolate Chip Cookies het ek dit getrou begin volg.

Ek het vir weke watertand na die foto’s gekyk met die eksotiese volksvreemde disse, maar tog eiesoortig aan Suid-Afrika, wat gemaak sou word by hierdie restaurant.

Ek het ondersoek gaan instel en ‘n onderhoud gedoen met Judi Fourie oor die unieke konsep van Pilcrow & Cleaver, want hierdie is ‘n restaurant sonder kelners, waar jy direk met die sjef kan praat en dit het selfs sy eie kookboek mini-boekwinkel.

En slegs ‘n paar dae na die opening, nooi ek twee vriendinne om saam te gaan proe. Met die intrapslag merk ons dat die kliënte vrolik en gemoedelik sit en gesels terwyl Frank Sinatra in die agtergrond sing.

Judi Fourie – eienaar en sjef – stap ons vriendelik tegemoet met ‘n glimlag wat haar oë ophelder.

Ons groet haar in Afrikaans en sy praat ons hartstaal. Jy voel sommer dadelik tuis. Iets wat jy in min restaurante vind. En ek dink aan die artikel wat ek gelees het dat Pilcrow en Cleaver gelys is as een van Kaapstad se hottest new restaurants, en dit sommer nog voor die deure oopgemaak is. Maar ek kan verstaan hoekom. Die konsep is uniek, die atmosfeer is huis. Jy kan maar jou skoene uitskop, dis okay.

Pilcrow & Cleaver

Judi lees haar kliënte vinnig en bied ons ‘n tafel aan wat sy dink die beste vir ons groepie sal wees. Ons voel gemaklik en verkyk ons aan die keurige dekor wat jou aan sonskyn en geluk laat dink.

As ek gaan uiteet, wil ek altyd iets bestel wat ek nie self by die huis kan maak nie. Of nie voorheen al iewers geëet het nie. Ons het egter vooraf besluit ons gaan die Milk Jam proe – want dit smaak mos glo soos ‘n moeder se drukkie!

Maar… daar hang hierdie lipleklekker lusmakende watertandgeur in die lug. En ek dink: as ek nou in ‘n Disney animasierolprent was sou lang geurige vlindersag spookvingers my nader lok.

Ons lees die spyskaart deur – kastig opsoek na die Milk Jam en tjoklitkoekies, maar een na die ander vra ons – meer aan onsself as aan die ander om die tafel – “wat de hel ruik so lekker!” en jou oë verken die spyskaart deegliker om te kyk of jy ‘n naam by daardie geur kan voeg of ‘n geur by ‘n naam.

Ek wil nogsteeds die Milk Jam proe, maar daai geurvingers het my die stryd aangesê en ek (ons ) het maar ‘n flou poging aangewend (vir die gewete, kastig) om daarteen te stry om nog ‘n dis te bestel. Maar jy verloor vrywillig. Ek gee oor. Ja nee, jy verloor teen jouself.

Jy blaai die spyskaart deur en begin weer van voor. Alles lyk lekker. Alles ruik lekker. Die keuse raak al moeiliker en die lus lê mos al hoeka laer as die enkels.

Ons bestel Handmade Gnocchi asook Lamb Cracklings op Brioche en vir nagereg kom ons toe uiteindelik uit by die rede vir my besoek: Milk Jam with American Chocolate Chip Cookies.

LAMB CRACKLING 2

‘n Blikbord vol messe, vurke en servette met die “kenteken” van Pilcrow & Cleaver netjies daarop, word voor ons neergesit.

Ons raak opgewonde. Ons gaan uit blikborde eet. Lekker! ‘n Herinnering uit ons kinderdae. Maar ons was verkeerd, en nie juis teleurgesteld nie, want toe ons disse kom, wat keurig en geurig voorgesit is op die ontwerpersbreekware, Klomp, was die blikbord vergete. Jou fokus is op die meesterstuk voor jou en die geurvingers wat al weer om jou dartel.

Julle moet regtig hierdie jong dame se kos kom proe. Dit is ‘n avontuurlustige smaaksensasie wat prentjiemooi voor jou neergesit word, en vir ewig vasgevang word in jou menswees. Jy ontdek smaakkliere wat jy nie geweet het bestaan nie. Geen foto op Facebook/ Twitter of Instagram kan opmaak vir daardie eerste happie in jou mond nie.

Jy is verlore, want Pilcrow & Cleaver klim pens en pootjies in jou innerste binneste.

Die Lorelei het jou betower! Vrywillig. Jy stry nie. Jy sit geen geveg op nie. Jy gee jouself oor. Jy raak verlore in die gereg voor jou. En jy besef later die stryd was verlore toe jy jou voete by die deur ingesit het.

Natuurlik proe ons oor en weer. Toe kom die nagereg. Dit was alles en nog meer oor wat jy gedroom het. Ek vra selfs of sy dit vir ons kan bottel sodat ons die spensrakke by ons huis vol Milk Jam kan pak.

My vriendin begin die nagereg bakkie met haar vingers te takel en lek smakend die krummels en die laaste morseltjie van die Milk Jam en Cookies op.

Ons ander staar jaloers na haar, omdat ons grootmaak maniere van “wat sou ma sê” ons nie toelaat om haar spontaan te volg nie.

MILK-n-COOKIES

Ons bly sit. Ons wil nie loop nie. Ons wil net hier wees. Dis soos huis. Ons wil net hier sit en wag om weer honger te word en die res op daardie spyskaart proe. En ons was nie die enigste nie, daar was nog kliënte wat nie hulle loop kon kry nie. Hulle was reeds daar toe ons gekom het, en toe ons opstaan, betaal en gaan, toe sit hulle nog al die pad.

Judi kom dek ons tafel af en ons vriendin kyk met leë oë agterna. Oppad huistoe bieg die bordlekker dat daar nog ‘n lekkie oor was.

En jy kan nie help om te wonder of jy ook maar jou bord moes uitlek nie.

Ons wil weer gaan…en weer, en weer, want die spyskaart verander weekliks… ons wil weer gaan!

 

Pilcrow & Cleaver is oop Maandae tot Saterdae, van 07:00 tot 23:00.
Gaan loer gerus op hul webtuiste vir die weeklikse spyskaart.

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge