Poppe, poppe en nóg poppe! Poppe net waar jy kyk!

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×
Leestyd: 5 minute

Poppe net waar jy kyk.

Poppe in die voorhuis. Poppe in die kamers. Poppe in die gang in rye op bankies. Poppe in die son-werkkamer vol; hier is klere gemaak en dit was ook die geboorte plek van die handgemaakte poppe.

poppe 1

Hoeveel poppe is daar? Het iemand al getel?

Nee, daar is TE veel en die een is mooier as die ander.  Jy wil voel en vat en drukkies gee en oee en ahh… wie is dan nou lus vir tel?

Ek wens ek kon Salie Miller, die mens, ken. Ek sou graag saam met haar ‘n koppie koffie wou drink en stap van pop tot pop, want as jy hierdie huis in Parow-noord instap, omarm die atmosfeer van liefde jou.

POPPE--TANNIE

Sy was een van tien susters en twee broers wat grootgeword het op ‘n plaas naby Stanford. En met tien sulke mooi dogters het Pa du Toit, verseker ‘n haelgeweer of twee agter die kombuis deur gehad.

Niemand kan meer onthou presies wanneer die poppe begin meer word het nie, maar hier teen 1980 het dit ernstig geword toe die huisgesin op Saldanabaai woonagtig was.

Rick, haar man, vertel sy het ook nie ‘n gunsteling pop gehad nie, daarvoor was haar hart te ruim.

Salie was beslis baie talentvol. As jy om jou kyk in hierdie huis, kan jy haar hand duidelik opmerk in elke vierkante sentimeter.

Salie het haarself bekwaam as ‘n onderwyseres terwyl Rick gestudeer het aan die Universiteit van Stellenbosch. Hulle is in 1972 getroud, en met drie kinders word hul toe later vyf kleinkinders ryker.

Maar die familie moes vroeg hierdie jaar skielik afskeid neem van hierdie talentvolle tuisteskepper.

poppe 2

Rick vertel verder; “Sy het die klavier gespeel wat daar in die sitkamer staan. Daardie geborduurde skilderytjies teen die muur is haar handewerk. Sy het dit self geraam ook. Sy het al die skilderye en foto’s wat in hierdie huis hang self geraam. Sy het vir ander mense ook goed geraam. Sy het poppe met die hand gemaak. Sy het die poppe geklee. Sy het gehekel en gebrei. Sy het haar huisgesin bederf. En sy het openlik met almal oor haar geloof gepraat.”

Elmarie lag prettig en blink oog toe ek vra of daar enige witbroodjies was in die familie?

“Phillip was die jongste! Hy is beslis die meeste bederf!”

Rick lag uit sy maag en sê: “Ek wonder!” en loer na Elmarie, die enigste dogter.

poppe 3

Jy loer rond en jy sien ‘n reeks poppe. As sy Haas Das se Nuuskas se poppe bymekaar gemaak het, dan het sy gesorg dat sy al die karaktertjies in die hande kry. En die boeke wat daarmee gepaardgaan.

Raggedy Ann poppe.  Paddington Bear. Shirley Temple. First Love. Kwepie poppe. Selleloit poppe. Beatrix Potter. Tarzan. Mary Poppins. Barbie. Porselein poppe. Disney poppe. Sy het ook self Mickey Mouse poppe gemaak.

poppe 4

Jy kan maar opnoem. Hulle is almal hier. Teddiebere te kies en te keur. Dit is juis waar die versameling sy oorsprong vandaan gekry het.

“Dit was eers bere vir ‘n laaaang tyd, toe kom die poppe.” sê Elmarie.

“Sy het net nooit ophou poppe koop nie. Maak nie saak waar ons was nie. Klein winkeltjies. Groot winkels. Oorsee. Sy het oral gegrawe na goed wat sy nog nie gehad het nie” vertel Rick met herinneringe wat vlak in sy oë kom lê.

poppe 5

“Sy het baie pop-stokperdjie vriendinne gehad. Daar was tannie Lena en Koekie de Jager, wat die speelgoedmuseum gehad het op Kleinmond (wat intussen verkoop is). En daar was Aysa, ook op Kleinmond. Sy was gek oor wêreldgeskiedenis en oor die geskiedenis van sekere poppe en boeke van die poppe wat die koninklikes gehad het. Sy het sommer alles geweet van al die geslagte van die “royalties” van Engeland; van Koning Henry die agste tot Charles se kleinkinders en daarna,” lag Elmarie en haar pa deurmekaar.

“Ek was vir twaalf jaar oorsee en toe ek terug kom is die hele huis vol poppe!” sê Elmarie.

Rick vertel Salie se hande was nooit leeg nie. Sy was altyd besig! Sy het altyd ‘n gaatjie in hierdie huis gesoek waar sy nog iets kon neersit of kon ophang of kon in pak!

poppe 6

Jy verkyk jou na die pophuisie met hul miniatuur meubels. Niks is weggelaat nie. Daar is ‘n piepklein kis wat halfpad oopstaan vol piepklein storieboeke. Kandelare met kerse in. Lampet bekers. Koppietjies met hul pierings. Babatjies by die dosyne in die babakamer. Skilderye teen die mure. Spieëls. Strykplanke. En nog meer. Daardie huis kort niks! (Behalwe elektrisiteit en ‘n televisie.)

poppe 7

Die kinders het almal hulle gunsteling poppe uitgekies, om hulle herinneringe aan hulle pragtige moeder lewendig te hou.

Die res gaan hulle verkoop op die Huis UITSIG FEES op 2 November in Parow-noord. Klik gerus hier vir meer inligting.

poppe 8

Salie was nie net ‘n vrou van vele talente nie, sy was ook ‘n mens vol lewe. Die bure onthou die Waatloemoenfees by Melkbosstrand toe Salie pastoor Nico Botha – in sy wit broek – met ‘n stuk waatlemoen by kom.

Rick lag uit sy maag toe VroetelVoete hom daarna uitvra.

“Ja, hy het so ewe prim en proper nog daar gesit toe Salie hom toetakel. G’n ander kerkganger wou dit waag nie. Toe Salie weghardloop sit Nico haar agterna, en ‘n hele stuk verder kon hy haar eers inhaal op die sand om haar terug te kry!”

Salie van Stanford. Ek wens ek kon jou ken.

POPPE--TANNIE-SKETCH

 

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

One thought on “Poppe, poppe en nóg poppe! Poppe net waar jy kyk!

  1. Jeanne

    Salie! Hoe bevoorreg was ek nie om jou van Stanford-dae al my vriendin te kon noem nie! Nee, eintlik seker familie!! Jy was my en my beste maatjie, jou sussie Doreen se “ousus” wat ons “van die lewe” geleer het. Salie, die een wat altyd Sy naam geëer en Sy genade en sorg aan almal vertel het. Dankie vir elke saamkuier. Vir al jou liefde en omgee. Ons verstaan glad nie waarom jy nie meer met ons is nie, maar ons weet dat jou Hemelse Vader die heel beste vir jou beplan het! Sal jou altyd onthou vir die baie spesiale mens wat jy was! Liefde!

    Reply

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge