Sandspore uit Kolmanskop

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×
Leestyd: 3 minute

Drie perderuiters het teen sonop in ‘n oostelike rigting gery. Een perderuiter het net voor sononder terug gekeer uit ‘n westelike rigting, en iewers op die spore wat hy agtergelaat het, was drie grafte sonder name…

vroetel (2)

As jy die lang pad vat na Lüderitz, in die suide van Namibië, gaan jy later langs die pad ‘n bordjie sien staan met die naam Kolmanskop. Wêreldbekend as die spookdorp van die Namib.

Die eens spogdorpie vergaan nou vreedsaam in die warm woestynson en word daagliks met elke briesie vanaf die see, duim vir duim, ingesluk deur die kurwes van die golwende duine se sand.

As jy hier stil sit en selfs jou asemhaling onhoorbaar is, hoor jy die stilte van die byna vergete verlede in die fluisterende eggo’s van die Namibwoestyn.

Verfskilfers teen verbrokkelende mure vertel hul eie storie. 

Draai jy jou kop skuins verbeel jy jou dat jy uit die hoek van jou oog iets sien beweeg het. 

Jy hou asem op en skreef jou oë. Kyk weer en wonder of jy jou verbeel het…

vroetel (2)

1907: Daar is net ‘n ysterspoor wat kort-kort die stryd verloor teen die sand.

1908: Zacharias Lewala tel ‘n paar mooi ‘klippe’ op.

Gerugte versprei soos blink vere in ‘n warrelwind. 

Prospekteerders stroom met drome in hulle oë die woestyn in.

1912: Kolmanskop staan op in volle glorie en produseer ‘n miljoen karaat per jaar.

Kolmanskop 1

Die eens dorre eensame woestynlewe raas met opgewonde uitroepe na rykdom.

Die dorpie ontwikkel vinnig met ‘n poskantoor, ysfabriek, bakker en slagter.

Diamante is meer volop as water, want vars water moet per spoor aangery word.

Duitsland probeer om meer beheer te verkry oor die ongelooflike rykdom deur beperkinge en prospekteerregte, en wil toegang vir die gewone mense verbied.

Daar is gedurige konflik op die rykste diamantvelde.

Die Eerste Wêreldoorlog breek uit en plaas ‘n demper op die mynbedryf.

Mense word angstig en paniekbevange.

‘n Sekelmaan hang bleek teen die swart nag, ‘n ligte briesie vee oor die sand.

‘n Kluis word kaalgestroop van sy inhoud. Dokumente en ‘n hele paar groot hande vol diamante word in ‘n swart reisigerstas gegooi. Die haastige galop van ’n perd se pote word gedemp deur woestynsand, musiek en verlangende dronkmansliedere.

Dit is ‘n moeë perderuiter wat dae later by Maroelaboom Polisiestasie stop met ‘n swart reisigerstas en sy geweer.

Vreemdelinge is skaars in hierdie area en ‘n veilige oornagplek word aangebied.

Braaivleisvure word aangesteek en gekuier.

Twee dae later vertrek drie perderuiters teen sonop in ‘n oostelike rigting.

Een is ‘n reisiger met ‘n swart reisigerstas en sy geweer. Die ander twee is ter dood veroordeelde Boesmans.

Een perderuiter en twee ruiterlose perde keer terug net voor sononder uit ‘n westelike rigting.

Die reisiger het geen bagasie behalwe sy geweer en iewers op die spore wat hy agtergelaat het, is 3 grafte sonder name…

vroetelNS: Hierdie verhaal is op twee afsonderlike kere aan my vertel deur twee manne wat mekaar nie geken het nie, maar wat geweet het waarvan hulle praat. En hulle het gaan soek…

Baie dankie aan Mias van Zyl wat die foto’s verskaf het.

17499010_10154446434762688_3498668864042536421_n

 

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge