Sonder ‘n huis, maar nie sonder hoop

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×
Leestyd: 5 minute

“As mense swaar kry het jy baie meer geloof as wat dit goed gaan. As dit goed gaan bid jy nie so baie soos wanneer dit sleg gaan nie.”

Homeless 1

Toe ek by hom aankom by die verkeerslig waar hy sit, staan daar reeds ‘n dame en die trane stroom teen haar wange af. Haar naam is Leila en sy kom van Johannesburg. Sy en haar dogter wag op die man na wie VroetelVoete kom soek het. Sy het oor die motor se sitplek gehang na agter en het die baba se kombersie uitgeskud toe haar foon, wat op die kombersie gelê het,  by die venster uitvlieg en in die straat beland.

“My hele lewe is daarop. My skoolgoed, my memories, my alles!” snik Leila, en haar dogter probeer troos.  “Gelukkig is daar nog eerlike mense soos hierdie man, wat my foon vir my gehou het!”

Sy vel is goudbruin gelooi deur die son, sy hare wit verbleik, maar sy staalblou oë mis niks. Iets aan hom lyk bekend. Hy herinner my aan iemand.

Hy sit op die hoek van Vasco Boulevard en Solly Smiedt straat regoor McDonalds by N1 City. Hy bedel nie, hy vra: Gee vir my werk, help my of koop by my vetplante. Ek mag “homeless” wees maar ek is nie “hopeless” nie.

Homeless 2

Gert Laufs (46) en sy meisie, bly in ‘n tent.  Waar sê ons nie, want hulle is alreeds R1500,00 se boetes  opgelê, omdat hulle op straat slaap.

Law enforcement vat ons goed af, al sê die wet anders, hulle maak net wat hulle wil met ons. As jy op straat bly het jy nie ‘n voice nie. Dan moet ons sukkel om weer te begin.”

Gert is gebore in Windhoek Namibië, maar in sy eerste skooljaar het sy ouers Worcester toe verhuis, omdat sy boetie doof gebore is, en die gesin naby die skool vir dowes wou wees.

Hulle bly nogsteeds daar, en is familievas.

“Ek is ‘n momma’s-boy!” verklaar Gert sonder ‘n sweempie van skaamte. “Ek gaan altyd terug-en-terug na my ma toe. Ek gaan kuier gereeld en sy kom kuier een maal per maand vir my hier by die robot. Sy bring vir my die vetplante wat ek verkoop om aan die lewe te bly.”

Homeless 5

Met die gesels kom jy agter Gert is diep gelowig, en hy glo God sorg vir hom en voorsien in sy behoeftes. Soos net die ander dag was sy skoene gaar…die sole deurgeloop en toe hy moedeloos langs die treinspoor afstap staan daar ‘n paar skoene. Mooi langs mekaar. Feitlik nuut.

“Netjies vir my neergesit! Presies my nommer! “Hoe?” vra Gert, “Hoe anders kan jy nie aan God glo nie. Want hoe gebeur dit? Ek kom uit ‘n goeie huis. Gemiddeld. Nes die mense hier om ons. Ons is nie gemaak om so te lewe nie, maar ek survive.  Ek sê nie ek is beter as die ander bedelaars nie, maar dammit ek is anders as die res van hulle. Ek het klaar gesink, ek kan nie laer nie, ek moet nou net swem. Jy sukkel om van die straat af te kom, maar ek gaan nie ophou nie. Ek glo groot dinge gaan nog gebeur. Ek was vir ‘n tyd lank siek. Amper 20 kilogram verloor. Die stormwater pyp waarin ons gebly het, het staande water gehad, dit het my siek gemaak. Maar toe ek terug kom, was baie mense bly om my weer te sien. Dit was ongelooflik”

Gert vertel na skool is hy polisie toe, maar in 1997 het hy die polisie verlaat. Hy het in ‘n bar gaan sit en drink.

“‘n Man het my aangeval met ‘n mes. Ons het gestoei en ek het hom per ongeluk met sy eie mes doodgesteek. Ek het 15 jaar gaan sit.”

“Daarna is ek huistoe en het vir my stiefpa gaan werk. Maar ons was kort-kort haaks. Struwelinge tussen hom en my het maar baie opgevlam. Ek het geglo die bakkie waarmee hy ry is MY bakkie en het dit 3 keer gesteel. Hy het my aangekla by die polisie en ek was voortvlugtig. En ek het in die openbaar weggekruip vir 5 jaar!”

Hoe kry hy dit reg?

Gert lag en sy besonderse blou oë lag guitig saam oor die humor van die storie.  En skielik weet ek aan wie hy my laat dink…

Oh yes mate! Crocodile Dundee! (Hy speel ook juis met so lang mes as hy houtwerk doen op die sypaadjie. Hou hom gerus dop.)

“Ek het hier, hier by hierdie robot, vir die polisie kom wegkruip. Hier in die openbaar. Die beste plek ooit! Hulle is daagliks verby my. Kyk as jy by ‘n robot staan, raak jy onsigbaar. Mense WIL jou miskyk! Ek het dit gesien, want dit het vir my gewerk vir 5 jaar!” Gert lag hartlik uit sy maag.

“Maar na 5 jaar is ek vasgetrek. Intussen het my stiefpa die sake teen my terug getrek en ons het as familie vrede gemaak. Ek het dus net een aand in die selle geslaap en toe is ek terug hier na my robot.”

Homeless 4

Maar waar sien hy homself sien in die toekoms, wonder ons.

“Ek weet ek het ‘n boodskap om te gee hierso, en ek weet as die tyd reg is sal ek weggevat word hier. Of dit lewendig of dood is en wat die boodskap is, ek weet nie. Ek los dit daar in God se hande. As jy nie geloof het nie, het jy niks. Geloof en humor. As mens swaar kry het jy baie meer geloof as wat dit goed gaan. As dit goed gaan bid jy nie so baie soos wanneer dit sleg gaan nie.”

Ek kyk met meer respek na Gert Laufs. Want is daardie stukkie waarheid nie al ‘n paar duisend jaar terug geskryf in die Bybel nie? En hier leef hy dit uit, dag na dag. Hier stry hy en sy meisie oor ‘n beter toekoms. Hier werk hy van 07h00 in die oggend tot 23h00 in die aand. Hier lag hy en hier het hy al gebloei. Soos die keer toe die 27-bendelid hom aangeval en sy neus gebyt het. Dit litteken op  sy neus is nog duidelik sigbaar.

Hier is alles al van hom gesteel, maar dan waai ‘n nuwe duvet van ‘n bakkie af wat hy optel en mooi opvou; die eienaar kom nie terug nie en daardie aand hoef hy nie koud te slaap nie.  Hy glo sy geloof dra hom, elke dag.

“Homeless not hopeless.”

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge