Van Boer tot Boerie-braaier

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×
Leestyd: 4 minute

Elke mens het ‘n storie, party mense se stories het net meer draaie as ander s’n. Party loop oor vér grondpaaie. Sommige stap. Ander ry op donkiekarretjies of in motors met leer sitplekke.

Net duskant OK Grocer in De Tijger, onder die koelteboom, sal jy hom dag na dag sien staan, besig om ‘n inkomste te genereer om vir sy gesin te sorg.

In sy hart is hy ‘n boer, maar sy lewenspad het nie uitgewerk soos hy dit beplan het nie. Die lewe het gaan tiekiedraai.

Iewers tussen Bultfontein en Bloemfontein het hy sy lewensdroom probeer uitleef te midde van ‘n droogte wat sewe jaar plus die boere op hulle knieë dwing en na bo uitroep terwyl stil hartseer trane na benede stort.

IMG_5484 (2)

Petrus Goosen (53) vertel self: “Ons moes al ons diere verkoop. Die droogte het ons geen ander keuse gelaat nie. Dit het ons gedwing om hartseer besluite te maak wat ons nie wou nie. Om te boer was my droom vandat ek ‘n kind was. Ek was vir een en twintig jaar in die Suid-Afrikaanse Weermag en kon slegs bevordering kry as ek bereid was om met my familie na Pretoria te trek. Ek wou nie. Die Vrystaat se vlaktes het tot my siel gespreek. Ek wou boer.”

Ons het met Dexter beeste geboer, melkbokke en ‘n paar skape. Ons het geleer om ons eie kaas te maak van die bokmelk en die melk en kaas verkoop. My vrou en kinders was gelukkig. Maar toe kom die droogte. Ons moes alles verkoop en terugtrek Kaap toe waar my 80-jarige moeder woon. Ons kon ten minste nou naby haar wees. Ons sien haar elke dag en is seker nou al so tien maande in die Kaap…”

Verlange na die oop vlaktes van die Vrystaat flits oor sy gesig.

“Die ekonomie is swak, ek het werk gesoek maar nie gekry nie. Ek moes iets doen. Ons het nog kinders op skool.”

Hy hou vir eers op met praat en help kliënte vriendelik, en hy beveel sy spesiale sous aan.

Die sousie is blykbaar ‘n familieresep.

Hy verseker die kliënte hulle gaan terugkom vir nog.

IMG_5511 (2)
En hy is reg. Ons het die sousie geproe en sal beslis teruggaan.

Petrus vertel dat hy seker al drie maande hier staan met sy boereworsrolle.

Hy lag blinkoog en vertel dat hy hier, dag na dag, interessante mense ontmoet. En hy geniet elke oomblik.

Sommige deel hulle hartseer met hom. Dan buig hy en die vreemdeling saam hoofde en bid.

“Hierdie sypaadjie en hierdie boom se koelte is my sendingveld. Ek staan hier en ek luister na mense se seerkry stories. Al het ek bankrot terug getrek Kaap toe, het ek kom ryk word hier. Ryk in die opsig dat ek ander mense kan vertroos en vir hulle bid.”

“Ek glo al het een deur toegegaan het die Here vir my ‘n ander deur oopgemaak.”

Hy staar in stilte na die sissende wors voor hom en draai dit ingedagte om en om.

“Dit het my sterker gemaak. Die plaaslewe was hard. Maar om op te staan is harder, maar ek het sterker anderkant uitgekom. En om boerewors rolle te verkoop is nou vir my ‘n roeping.”

Die aanpassing van die plaas na die stad was nie maklik nie, maar mens raak dit gewoond. En hierdie mense wat ‘n stukkie van hulle lewe met my deel, maak dit vir my die moeite werd.”

Petrus Goosen se vrou ,Christa, sluit by ons aan, sy bring nóg sous van die huis af.

IMG_5496 (2)

Hy spog met sy kort vroutjie wat onder sy blad inkruip. En vertel dat sy baie kreatief is en dat sy die naam PJ’S Boeries self uitgedink het. Dit is die eerste letters van hierdie gesin se name gekombineer.

IMG_5504 (2)
Sy lag liefdevol en vertel dat hulle al meer as 23 jaar getroud is.

Maar waar sien hulle hulself oor ‘n jaar of twee?

“Ons wil graag ons eie koswaentjie hê. Dalk twee. En ons wil ons eie wors maak. Beeswors. Skaapwors. Lekker wors!”

As jy uit McIntyrestraat opry in Hannes Louw Rylaan, stop gerus by die koelteboom en gaan knoop ‘n geselsie aan met Petrus Goosen. ‘n Plaasboer in murg en been wie nie gaan lê het toe die lewe dwarsklappe uitgedeel het nie. Hy het opgestaan uit die stof om sterker te word en ander te help.

Elke mens het ‘n storie, party mense se stories het net meer tiekiedraaie as ander s’n.

IMG_5490 (2)

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge