Van Country tot Opera – Die man met meer as 25 stemme en een “pikkewyn”

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×
Leestyd: 5 minute

Will Jordan van Polokwane in Limpopo is ’n musiekunstenaar wat jou ure kan laat luister na die verskillende sangers wat hy kan naboots. Maar hy het self ’n stem wat jou hoendervleis gee.

Ons vra hom hoe oud hy is, maar hy lag net blink oog en antwoord: “Te oud vir woorde!”

En dis juis met woord en musiek waarmee hy sy gehore betower, want as Will Jordan begin sing en die een sanger na die ander naboots, hoef jy net jou oë toe te maak en elke noot en woord geniet. Jy verbeel jou jy sien hulle voor jou staan.

Will Jordan

Will Jordan

Vra jy hom wie hy almal kan naboots, rits hy die name af: Steve Hofmeyr, Bles Bridges, Gé Korsten, Anton Goosen, Randal Wicomb, Dozi, Koos du Plessis, Al Debbo, Gene Rockwell, Clive Bruce, Engelbert Humperdinck, Tom Jones, Julio Iglesias, Elvis, Staccato’s, Sha-na-na, Roger Whittaker, Pavarotti, Helmut Lotti, Percy Sledge en Lee Marvin. Dan natuurlik ook vir Danie Smuts, Naas Botha en Gerhard Viviers…

Luister gerus.

Will Jordan en sy Elize is reeds 21 jaar gelukkig getroud. En nie net is Elize sy bestuurder nie, maar sy deel ook sy passie vir musiek. Hulle is beste vriende en sielsgenote, wat mekaar ontmoet het op die Country Music Farm van Matt Hurter.

Will vertel self: “Ek kon nie vir ‘n beter lewensmaat gevra het nie. Sy toer die hele land vol saam met my. Sy ondersteun my ten volle en motiveer my om my musiek uit te leef. Sy doen al my besprekings, optredes en opnames van CD’s. En ook het sy vir my verskeie televisieprogramme gereël om in op te tree. Sy doen my klank as ek by funksies optree,” Will kyk met trots na sy pragtige vrou.

Hulle is veral gek daaroor om by aftreeoorde op te tree, en hou die “ongeregistreerde” Guinness Book rekord – om by die meeste aftreeoorde op te tree in een dag!

Nie net het hulle snoeppakkies uitgedeel by 25 aftreeoorde in Pretoria nie, hulle het die klank opgeslaan, gesing en weer die klank afgeslaan en dan vertrek na die volgende oord.

Dit wil gedoen wees!

Will en Elize het 4 kinders (3 dogters en ‘n seun) en hulle is ook Oupa en Ouma van amper ‘n handvol kleinkinders, waarvan Oupa se “Pikkewyn” die enigste kleindogter is.

Pikkewyn

Pikkewyn

Pikkewyn (Misha) deel haar oupa se passie vir musiek en het reeds van kleintyd oor die verhoog na haar oupa gekruip om saam te sing. Vandag is Misha groot genoeg om jou te vertel dat sy eendag in haar oupa se “band” gaan speel as sy groot genoeg is.

Misha sing saam.

Misha sing saam.

Will self sing al van 7-jarige ouderdom en het sy liefde vir musiek van sy pa gekry, wat opera gesing het. Volgens Will was sy pa briljant, maar het ongelukkig nooit professioneel begin sing nie. Maar hy het die mooiste herinneringe waar hy en sy pa saam sing.

“Pa het uit en uit gesing vir die liefde vir musiek. Het geen openbare optredes gedoen nie. Wat eintlik baie sad was, want met soveel talent kon hy dit baie ver gevat het.”

Sy oë kyk verlangend na buite as hy amper onhoorbaar sê: “Ek sou baie graag ‘n verhoog saam met my pa wou deel, maar dit was my nooit beskore nie…”

Ons vra Will om ons meer te vertel van sy musiekloopbaan. Hy vertel: “Ek was maar my hele lewe altyd betrokke by musiek en optredes. Ek het omtrent 25 jaar gelede voltyds in die musiek bedryf ingegaan.”

Met ’n vonkel in die oog, vertel Will verder: “Ek was in die Suid-Afrikaanse Weermag se vermaaklikheidsgroep, en daar het ek vir Oom Al Debbo ontmoet. Hy was my samajoor, en het my baie geleer van die musiekbedryf. Ons het die manne op die grens vermaak. Van hier tot in Angola. Ek het elke oggend vir Oom Al sy beker swart koffie gemaak, en as hy gaan rolbal speel het, was ek altyd daar om sy rolbal balle skoon te maak.”

“Ek was baie bevoorreg om saam met meeste van Suid-Afrika se legendes te werk. Mense soos: Lance James, Bobby Angel, Matt Hurter, Billy Forester, Clive Bruce, Sally Vaugh en Barbara Ray.

“Ek het vir ‘n tyd lank professionele opera opleiding gehad. Country is egter my voorliefde, maar ek is ‘n all rounder en hou van ‘n wye verskeidenheid van musiek en het ook al reeds op skool in orkeste gespeel. ‘n Hoogtepunt wat orkeste betref was toe ek vir Matt Hurter se orkes begin speel het in 1995 op die Music Farm in Hartebeespoortdam.”

Will kan 13 musiek instrumente speel, en is op sy gemaklikste met kitaar en klavier. En boonop is hy ook ‘n kranige liedjieskrywer en al die liedjies op sy CD: “Soveel Jare is Verby” – wat Junie 1999 vrygestel is, is deur homself geskryf.

Will vertel dat hy van kleintyd ’n groot aanhanger is van Gé Korsten, asook Neil Diamond, “Neil Diamond is ’n man wat lief is vir God en nie skaam is om dit te sê nie. Ek het baie respek vir so persoon. Elvis, het ‘n wonderlike talent gehad. Veelsydig en het almal op hulle voete gehad. En natuurlik my pa. Aan wie ek “I am a Country boy” opgedra het.”

“Ek wou baie graag ‘n CD opname gemaak het, en my droom is bewaarheid. ’n Paar solo’s en CD’s en verskeie kompilasie albums het al die lig gesien. My heel eerste album was; Love Changes Everything. Nog solo albums was; Soveel jare is verby, Country Boy en Back to the 80’s. Ek het ook ‘n DVD opname gemaak: Will Jordan, Live in Concert.

IMG-20200527-WA0014

“Ek wou altyd graag hê dat ‘n video van my moet op TV uitgesaai word, en my droom is bewaarheid toe hulle Jerusalem aanvaar en begin uitsaai. En na vele jare word dit nogsteeds vandag op Sondae uitgesaai.”

Will vertel verder: “Een van die hoogtepunte in my lewe was toe ek ‘n platekontrak gekry het by Desibel Platemaatskappy, Boet Pretorius, ‘n fantastiese leermeester.”

Elize vertel met trots dat Will al in verskeie TV-programme ook opgetree het, “Maak-‘n-Las, saam met Tolla van der Merwe. Front Row. Geraas. Dik en Dun. Voorblad saam met Rian en KykNet Country saam met Juanita du Plessis.

Ek vra of hy enige raad het vir opkomende sangers en Will bly nadenkend stil voor hy antwoord, “Geniet jou musiek, bly nederig, en bo alles, moet nooit vergeet waar jou talent vandaan kom nie. Ken die Here in al jou weë.”

“En ten laaste, maar nie die minste nie, wil ek graag via VroetelVoete, van die geleentheid gebruik maak om baie dankie te sê aan al my aanhangers, wat my met die loop van die jare so mooi ondersteun het. Sonder julle, is ons kunstenaars net mooi niks.”

Vir besprekings kan Elize gekontak word. Besonderhede is beskikbaar op Will Jordan se Facebook page. Gaan kyk gerus op Will se blad na “Lisa” wat hierdie veelsydige, veel-stemmige sanger opgedra het aan sy vrou.

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge