Verken Suid-Afrika en Spaar

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Die lewe is duur; ons beursies sug by die petrolpomp, skop ‘n bohaai op in die winkel en vakansie is die laaste ding waaraan ons dink as die sente omgedraai moet word.

Terwyl eksotiese disse, ervarings en oorsese reise op menigte se wenslysies rus is die realiteit gewoonlik ‘n kreunende beursie wat skreeu, “hokaai, waarheen dink jy gaan jy?”.

Jy wil nog so aan jou beursie verduidelik dat jy net tydelik sy flappe ‘n bietjie wyer gaan rek en strek, maar voor jy jou kan kry hik en snik die geldgleufies met trane in hul oë.

Daar is tóg hoop.

September is ‘n maand propvol geleenthede en uitnodigings vir Suid-Afrikaners om hul land te verken – nie net is dit erfenismaand nie, maar dit is ook toerismemaand en hierdie jaar word daar gefokus op die bekostigbaarheid en toeganklikheid van toeriste-aantreklikhede, om dit makliker te maak vir almal dat die beursies sowel as die mens ‘n blaaskansie kan ervaar.

Skop jou voete vas, vertoef en verken die grond van Moeder Afrika; jou alles-in-een-stop met natuur, stad, kuns, kultuur, veld, kus, berge, bos en woestyn. Híér sal jy altyd iets nuut kan ontdek en daar is vele maniere om die sente om te draai en daardie vakansie terug te sit op die wenslysie.

Reis in Suid-Afrika en Spaar met hierdie 5 Sakpas-idees

Wild Card

As ‘n vakansie in die bosveld en die wilde wildtuin klink na jou tipe avontuur moet jy in ‘n Wild Card belê. Die Wild Card bied jou gratis toegang (geen bewaringsfooi) tot elke Suid-Afrikaanse Nasionale Park asook Cape Nature, Ezemvelo KZN Wildlife, Msinsi Oorde en Wildreservate en die Groot Wild Parke van Swaziland vir ‘n hele jaar. In ‘n japtrap sal jy die volle waarde uit jou Wild Card kan put; na slegs een week in Kruger Nasionale Park sal jou beursie al klaar gelukkig huppel en dan is daar steeds 51 weke oor om jou Wild Card te gebruik.

Koste: R340-R470 vir een persoon, R555-R770 vir twee en vir ‘n familie (twee volwassenes en tot en met 5 kinders) is dit R675-R945.

Besoek die webwerf: www.wildcard.co.za.

Wild Card Suid-Afrika

Nelson Mandelabaai Pass Card

Met die Nelson Mandelabaai paskaart (NMB Pass) kan jy gratis toegang asook afslag geniet tot vele besienswaardighede en aktiwiteite in en om die Baai wat so ver strek as Plettenbergbaai. Die 5-in-1 pas bied jou die opsie om enige vyf aktiwiteite te kies en dan is daar ook die Onbeperkte Reisplankaart wat geldig is vir een, twee, drie of sewe dae.

Koste: R475 vir ‘n 5-in-1 pas vir een persoon terwyl die Onbeperkte Reisplankaart wissel tussen R300 en R800 per persoon.

Besoek die webwerf: www.nelsonmandelabaypass.co.za.

Nelson Mandela Bay Pass Card

Voicemap

Die app (oftewel die toep) bring die toergids na jou ore met vindingryke tegnologie wat jou toelaat om toere regoor die wereld af te laai op jou slimfoon, Hierdie toere en roetes word beplan en opgeneem deur plaaslike inwoners en hul ken die dorp of stad soos die palm van hul hand wat jou die geleentheid bied om ‘n area op ‘n oorspronklike en unieke manier te ervaar.

Koste: Toere begin by R28 ($2) en daar is huidiglik ‘n gratis historiese toer van Matjiesfontein beskikbaar.

Besoek die webwerf: www.voicemap.me.

Voicemap

Hop-on Hop-off City Sightseeing Bus

Hang jou motorsleutels op vir ‘n dag, vergeet van die dilemma van soek vir parkering en rond ry en klim op ‘n rooi dubbeldekker-bus in Kaapstad en Johannesburg. Die City Sightseeing Bus bied jou die geleentheid om heerlik agteroor te sit en die stad te verken; die busse ry langs roetes met bekende besienswaardigheide van museums tot wynplase en jy kan kies waar en wanneer jy wil afklim terwyl jy na interessante brokkies inligting kan luister via ‘n oudiogids in jou oor.

Koste: R170 vir een dag per persoon.

Besoek die webwerf: www.citysightseeing.co.za.

En loer gerus na die ander addisionele toere soos ‘n bootrit by die V & A Waterfront en die Sonsondergangbus .

City Sightseeing Bus Cape Town Spaar

Gratis Toere

Dit gebeur nie aldag dat jy iets gratis kan opraap nie, maar danksy Nielsen Tours se staptoere kan jy Johannesburg en Kaapstad verken per voet saam met ‘n kundige toergids. Daar is twee roetes in Johannesburg, een in die energieke Braamfontein en die ander een in die Middestad, en Kaapstad pronk met drie roetes, wat jou neem na die kleurvolle Bo-Kaap, Distrik Ses asook deur die die stad om meer te leer van Kaapstad se geskiedenis.

Koste: Gratis (maar vergoed gerus die toergidse met ‘n fooitjie).

Besoek die webwerf: www.nielsentours.co.za.

Free Walking Tour Braamfontein

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge