Victoriavalle: Moenie hierdíé 7 dinge misloop nie!

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×
Leestyd: 5 minute

Zimbabwe se Victoriavalle is nie net een van die Sewe Natuurlike Wonders nie, maar dit is ook deur UNESCO verklaar as ‘n Wêrelderfenis gebied.

En met hierdie wonder, reg op Suid-Afrika se agterstoep, moet jy die geleentheid gryp met albei hande as jy ooit die kans kry om dit te besoek.

Pak jou muskietsmeerseltjie en gaan doen hierdie 7 dinge in Zimbabwe!

Victoriavalle

Reeds by die parkeerarea streel die sprei met koue nat kriewel spookvingers oor jou gesig. Die sagte sprei verander spoedig in ‘n sproeireën soos jy nader stap. En skielik is daar niks meer wat jou uitsig versper nie, en jy staan voor die aangesig van die donderende Victoriavalle.

Opgewondenheid, vrees en respek vir hierdie magtige natuurreus bruis deur jou are as jy sien hoe die wit bruids-watergewaad tuimel na benede.

So vér as wat jou oog kan kyk, sien jy water en water en nog water.

En watookal jy dit wil noem – Victoriavalle / Vic Falls / Die Rook wat Donder / Mosie-oa-Tunya / Een van die Wêreld se Sewe Natuurlike Wonders – dit is ‘n móétbesoek.

Toegang vir Suid-Afrikaners is $20 per persoon. Jy kan of vinnig deur die park beweeg, of  jy kan ‘n heerlike piekniekmandjie in jou rugsak pak en  dit ‘n luilekker dag maak terwyl jy die natuur om jou geniet (daar is ook ‘n restaurant).

Victoriavalle

Batoka-kloof

Net soos die valle is hierdie kloof geleë tussen Zimbabwe en Zambia.

En vanaf die Lookout Cafè, wat bo-op die plato is, kyk jy uit oor die magtige kloof wat 100m verder eindig in die bruisende water van die Zambesirivier doer onder. 

Hierdie kloof word gebruik vir drie verskillende hoëdraad aktiwiteite (wat deur Wild Horizons bedryf word) perfek vir waaghalsiges wat wil ontslae raak van al daardie opgehoopte adrenalien of vir die minder waaghalsiges wat graag hulle vrees vir hoogtes in die oë wil staar.

Jy het ‘n keuse tussen die Flying Fox, Gorge Swing of die langste Zipline in die wêreld.

Hou in gedagte: Die Lookout Cafè is op 24 Desember 2018 deur ‘n brand vernietig. Maar die opening van die nuwe Lookout Café word beplan vir 1 Desember 2019. Die Flying Fox, Gorge Swing en die Zipline aktiwiteite gaan egter voort soos normaal. 

Wild Horizons

Aasvoël Ondervinding

Het jy geweet dat in die laaste 30 jaar, het 8 van Afrika se 11 aasvoëlspesies gekrimp met ‘n gemiddeld van 62%, en dit terwyl aasvoëls ‘n kritieke rol speel in ons ekosisteem?

Die Vulture Culture Experience by die Africa Albida Tourism’s Victoria Falls Safari Lodge in Zimbabwe, is ‘n bewaringsprojek wat daarna streef om bedreigde aasvoëls te beskerm en ook om besoekers bewus te maak van hierdie voëls se leefstyl in hulle natuurlike omgewing.

Dit is ‘n gratis ondervinding en as jy dalk ‘n ete geniet by die Victoria Falls Safari Lodge, woon gerus die aanbieding by.

Gaan lees meer oor die Vulture Culture Experience op ons susterpublikasie,   Bye Bye Birdie, Bye Bye Vultures?

Aasvoel

Die Boma Dinner and Drum Show

By die Dinner and Drum Show by die Boma van die Victoria Falls Safari Lodge kan jy weglê aan smaakvolle disse, goeie wyn en ‘n aand van aaneenlopende vermaak geniet met sangers, dansers, tradisionele toordokters en die Afrika-tromme, wat jy ook self ritmies kan slaan. 

Die 4-gang buffet ete maak voorsiening aan ieder en elk se smaak met plaaslike fynproewers disse soos mopaniewurms en groondboontjiebotter-rys en ‘n groot verskeidenheid van bykosse, slaaie en nageregte.

Boma

Op die uitkykdek van Victoria Falls Safari Lodge

Vanaf die MaKuwa-Kuwa Restaurant (oop vir ontbyt, middagete en aandete) het jy ‘n onbeperkte uitsig oor een van die watergate van die Zambesi Nasionale Park. Moet dus nie verbaas wees as ‘n olifantfamilie skielik uit die bosse gestap kom nie, of as jy ‘n hiëna in die maanlig opmerk nie. Hou jou verkyker en kamera altyd gereed vir aksie, want in daardie watergat is ook krokodille.

Victoria Falls Safari Lodge elephants

‘n Bootrit op die Zambesi

Verlustig jou in die karmosynkleure van die ondergaande son terwyl jy teug aan ‘n eksotiese drankie of ’n Zambezi Lager. Gedurende hierdie 2 tot 3 ure bootrit kan jy seekoeie, krokodille en ander groot wild sien asook ‘n groot verskeidenheid voëlspesies.

Zambesi

Stap deur die dorp

Skep asem en gaan stap deur die dorpie; daar is snuffel winkeltjies soos die Elephant Walk Shopping & Artists’ Village waar jy alles wat mooi is kan koop om saam met jou terug te neem huis toe. 

Les jou dors by The Three Monkeys en onthou om te tel hoeveel vlakvarke verby jou gedrentel het.

Die Victoria Falls Safari Lodge het ‘n bussie wat uurliks ry, dus kan jy besluit hoe lank jy in die dorpie wil kuier.

Ander doendinge as jy Victoriavalle besoek

Hier is nog ‘n paar doendinge: 

White-water rafting

Die beste tyd om die Zambesi se waterstrome aan te pak is vanaf Augustus tot Januarie.

Helikopterritte

Dit is goedkoper om die Valle te voet te verken, maar as jy dit kan bekostig is reël ‘n helikopterrit.

Reksprong

As jy van die vreesloses is wat hoogtes kan hanteer en teen ‘n duiselingwekkende spoed na jou amper-dood duik terwyl die krokodille daar onder in die Zambesi oopmond wag, dan is hierdie nét vir jou. 

Gemeenskapsprojekte

Verskeie hotelle by die Valle is besig en betrokke by gemeenskapsprojekte. Vind gerus uit hoe jy kan help.

Vir bekostigbare vlugte na Victoriavalle, besoek: fastjet.

fastjet

Daar is ‘n groot verskeidenheid akkommodasie beskikbaar en by die Victoria Falls Safari Lodge is daar selfsorg eenhede beskikbaar vir tot 8 mense (wat lekker is vir groepe), familie-eenhede asook luukse kamers.

Victoria Falls Safari Lodge

Hierdie artikel is aangepas en vertaal vanuit ons susterpublikasie, Going Somewhere Slowly.

Die reis na Victoriavalle is moontlik gemaak vir Going Somewhere Slowly te danke aan Africa Albida Tourism, Victoria Falls Safari Lodge, fastjet, Wild Horizons en Take Note Reputation Management.  

 

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge