Hiert jou Fossiel – Weskus Fossiel Park

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Van fossiele weet ek maar bra min.

Ek weet dit het iets te doen met klip, iets te doen met been en iets te doen met iets anders wat eendag lank, lank gelede gebeur het.

WFP1

“Miljoene jare gelede”, vertel Nicky terwyl hy met ‘n lang stok na ‘n stuk been wys, “het hier  kortnek-kameelperde rondgeloop”.

Hy was na ribbes en tande. Hy praat oor dinge van toeka tot nou. Buite is dit tjoepstil en in die son tjirp ‘n voël in vlug.

Vir ‘n vlugtige oomblike loop dinosourusse met swaaiende sterte en groote kakebene rond in my verbeelding; t-rex, barney en die hele spulletjie vertrap die aarde en trompetter brulklanke in my geestesoor en voor die reusagtige diere hul monde oopmaak bring Nicky my vinnig-vinnig terug na realiteit met verhale van kortnek-kameelperde, sabeltandkatte en bere.

Van fossiele weet ek maar bra min, maar daar is iets aan Nicky – ‘n gids by die Weskus Fossiel Park – se stem wat my in ‘n transtoestand oopmond laat staar na die uitgekapte stukkie aarde onder my voete. Sy entoesiasme is aansteeklik en dit borsel sommer die stof summier van my eie brein af soos hy die geskiedenis voor my oopvou in staaltjies en feite.

WFP4

Miljoene jare gelede”, sing die woorde in my kop.

‘n Paar sentimeters van my voetsole lê ‘n eksotiese spesie wat talle wetenskaplikes en navorsers al gelok het; ‘n stukkie aarde, ‘n stukkie oerverlede verewig in Moeder Natuur.

Na die formaliteite en inligtingsessie, vertel Nicky van sy eie lewe. Hy vertel hoe hy hier gewerk het destyds toe dit nog ‘n myn was. Hy vertel hoe hy, na die myn hul skagte gesluit het weens die ontdekking van fossiele, begin werk het by die Weskus Fossiel Park as ‘n tuinier en hoe die opgrawings hom begin fassineer het. Hy vertel van sy menigte vrae en hoe hy harde bene moes gekou het met die antwoorde. Hy praat oor hoe die waarheid vir hom begin oopvou het, hoe baie hy oplees, navors en hoe hy dag na dag mense ontmoet wat swaar herkou aan die gedagte van “miljoene jare gelede”.

Hy praat en swaai sy arms doer in die verte in soos hy beduie; hy praat met passie, met oorgawe en met ‘n glimlag.

Weskus Fossiel Park

Buite een van die uitgrawingsareas staan ‘n paar groot bakke met piepklein beenstukke van ander diere.

Vir ‘n oomblik dink ek ek sif vir goud, maar soos ek my hande deur die gebeendere trek sing die woorde nog een maal in my kop, “miljoene jare gelede…”  en ‘n stukkie aarde, ‘n stukkie oerverlede val deur my vingers van toeka tot nou.

West Coast Fossil Park

Been-af doedinge by Weskus Fossiel Park

  • Begeleide Toere
  • Koffiewinkel
  • ‘n Speelpark vir Kinders
  • Fietsroetes
  • Staproetes

Besoek www.fossilpark.org.za  vir meer inligting oor die Weskus Fossiel Park en gaan loer gerus op www.westcoastway.co.za vir nog ‘n paar interessante artikels oor hierdie nasionale erfenisgebied in Suid-Afrika.

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge