Die legende van die wilde perde van die Namib

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×
Leestyd: 3 minute

As jy in die klein ure van die nag voor Fort Duwiseb staan dan swyg die krieke, en oor die bleek woestyn hang ‘n swanger stilte… die natuur hou asem op.

As jy mooi luister dan hoor jy dit – in die verte – ‘n perderuiter wat aankom.

Nader en nader.

Maar hy bereik nooit sy bestemming nie.

Jy wag tevergeefs, en môreaand kom hy terug.

Miskien haal hy tog die Kasteel vanaand?

67693898_10215188913141109_8645440335561883648_n

Toe Baron Ernst von Wolf se seun gebore word gaan hy en die Amerikaanse Konsul-generaal Humphries, wat in Dresden, Duitsland woon, ‘n ooreenkoms aan dat hulle kinders met mekaar gaan trou. ‘n Kontrak word opgetrek en “Kaptein” Baron Hansheinrich von Wolf staan uiteindelik 1.98 m in sy militêre sokkies.                                                                   

In 1909 bring Baron Hansheinrich von Wolf sy bruid, Jayta Humphreys, na Deutsch-Westafrika waar hy besig is om die fabelagtige kasteel te bou in die suide – 70km wes van Maltahôhe.                         

Baron von Wolf voer ook 72 volbloed Arabier spogperde in vir sy bruid.  

Die toringkamer word in ligblou fresco geverf. Die dak is ‘n toneel van die Zeppelin wat in die blou lug hang tussen ragfyn wit wolkies.

Maar Baron von Wolf raak nooit aan sy bruid nie.

Elke nag klim hy op sy gitswart volbloed arabiese hings en ry na die  dorp se kroeg net om in die laat donker ure van die nag terug te keer as die maan bleekwit kwyn op die horison en die oggendster geheimsinnig flonker terwyl Jayta tevergeefs wag op haar aantreklike bruidegom.

67698062_10215188916261187_892333172899971072_n (1)

Tydens 1914 breek die oorlog uit en die Baron vertrek om te gaan veg in Europa.

Hy verdwyn.

Duisende vrae en bewerings.

Sommige glo hy het homself as vrou vermom en Amerika toe gevlug. Ander sê hy het dapper gesterf. Maar sy lyk is nooit gekry nie.                                                                     

Jayta trek terug na haar ouers in Dresden en verhuis later saam met hulle na Amerika terwyl ‘n ander storie lui dat sy na die suide van Engeland verhuis het. Maar een ding is seker, Jayta het nooit teruggekeer na die spogplaas op die randjie van die Namib nie, en geen aanspraak gemaak op die majestieuse kasteel.

Die plaas bly verlate lê.   

67575576_2334814053293434_6030426510727315456_o

Soos die tyd verby gegaan het het die 72 volbloed Arabierperde gegroei tot 350.

Die perde raak honger en dors en begin kos soek in die Namib woestyn, waar jy hulle vandag nog kan sien.

En in die klein ure van die nag kan jy die Baron hoor terugkom.

Galop. Galop. Galop.

Nader en nader.

Maar hy bereik nooit sy bestemming nie.

Jy wag tevergeefs, en môreaand kom hy terug.

Miskien haal hy tog die Kasteel vanaand?

01-duwisib-castle-770 (1)

Of hierdie “legende” waar is weet ek nie. Dit is oorvertel aan my deur Smitty van The Windhoek Observer, onder ‘n bleek maan voor die Kasteel by ‘n flou kampvuurtjie, terwyl ons gewag het vir die haastige geklap van dowwe perdehoewe! – Sammy

 

Baie dankie aan Talané Greyling van die Namibia Wild Horses Foundation vir die foto’s van die perde, asook Nicolette du Toit en Johann Muller vir hul foto’s van die Duwiseb Kasteel.

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

One thought on “Die legende van die wilde perde van die Namib

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge