Kies koers na die WILDEKUS!

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Haal die padkaart uit en trek die notaboekie nader, want die Wildekus is ’n bestemming in Suid-Afrika waar jy min of meer ’n idee moet hê waar jou punt-A en -B van reis lê .

Natuurlik, soos jy van die naam kan aflei, is hierdie wilde een aan die Ooskus nie ’n outjie wat jy sonder ‘n bietjie beplanning moet aanpak nie. En die sein is maar maar yl, so om dit later te los vir Google gaan ook nie altyd help nie.

As die Wildekus nog ietwat onbekend is vir jou en as slegs die Gat-in-die-muur (beter bekend as Hole in the Wall) ’n klokkie lui, verbeel jouself ’n prentjie van ’n groen heuwelagtige landskap, ruwe rotse, goue strande (met ’n Nguni-koei of twee), watervalle, stilte, oeroue melkhoutbome, skeepswrakke, steil kranse, grotte, skatte, vriendlike gesigte, rotsformasies, kultuur, tradisie en nog vele meer.

Wildekus Vroetelvoete 9

Die Wildekus is ’n skatkis propvol natuurlike verrassings, ’n roete ongerep en sonder McDonalds burgers. Beste van als? Dit is bekostigbaar! En vir diegene wat wil tent opslaan of sommer in ’n backpackers-plek sonder fênsie fieterjasies wil oornag is dit selfs nog meer bekostigbaar.

Beplan ’n vakansie na die Wildekus

Hoeveel tyd het jy nodig?

Gun jouself minstens 5-dae as jy die Wildekus slegs gedeeltelik wil verken; ’n week is beter en 10 dae sal vir jou ’n goeie balans kan gee tussen rus, ontdek en rondry.

Waarmee ry jy?

Die Wildekus se paaie is nou nie juis geteerde snelweë nie so maak jouself reg vir grondpaaie, slaggate en as dit baie gereën het, modder. ’n 4×4-voertuig is nie noodwendig nodig (hang af van jou roete), maar iets met ’n goeie grondvryehoogte word aanbeveel (los maar die Ferrari by die huis). Onthou die goue reël: so stadig as moontlik, so vinnig soos nodig. Vergewis jouself altyd met die toestand van die pad voor jy gaan (skakel jou oornagplek voor die tyd om 100% seker te maak).

Wildekus Vroetelvoete 4

Wanneer ry jy?

Winter is ’n goeie tyd.

Waar om te ry, waar om te ry?

Hier is ’n paar plekke waar jy kan oornag (van Suid na Noord) of net inloer:

Morganbaai: Hierdie kusdorpie is nie so wild soos die res, maar maak jou self reg vir ’n pragtige swemstrand, roste, kranse en staproetes. Kampeerders kan tent opslaan by Double Mouth Natuurreservaat waar Karneoolkrale, ou geldkrone en Ming porselein nog tot vandag toe op die strand uitspoel nadat ’n Portugese boot, Santo Espirito, in die 16de eeu hier gesink het. Daar is formele verblyf in Morganbaai asook restaurante. Stop by Billy Nel se Motorfietsmuseum waar daar ook ’n Corvair 880 passasiersvliegtuig staan, jy kan dit nie miskyk nie.

Wildekus Vroetelvoete 1

Mazeppabaai: Met ’n string palmbome, pragtige strand en ’n “eiland” wat jy kan besoek tydens laaggety met ’n hangbrug, is die plek gewild onder hengelaars, Die Manubi-bos is ’n gesogte uithangplek vir voëlkykers. Gaan tuis in Mazeppabaai Hotel. Hier is nie kampplek nie.

Kob Inn: Nie te ver van Mazeppabaai lê Kob Inn, ’n oornagplek met vele doendinge vir oud en jonk. Aktiwitiete kan bespreek word by die hotel soos perdritte en 4-wiel ekspedisies en daar is ook ’n trampolien, speelkamer, parkie en sandput. Jy kan ook van die staproetes verken, voëlkyk en hengel by Kob Inn. Hier is nie kampplek nie.

Dwesa: As jy graag wil swem, duik, stap en ontspan dan moet jy koers kies na Dwesa. En die bosloerie en manglietvisvanger wag vir jou hier in in die 3500 hektaar reservaat wat bestaan uit kuswoud, grasland, die Mbasherivier en ’n diverse kuslyn. Kampeer by Dwesa Natuurreservaat of gaan tuis in ’n chalet. Daar is ook Dwesa River Mouth Lodge wat bo op ’n kop sit.

Koffiebaai / Hole in the Wall: Die geologiese fenomeen bekend as “die gat in die muur” is ’n móét as jy die Wildekus besoek. En dit maak nie saak of jy dit vir die eerste of die vyfde keer besoek nie, dít – asook die melkhoutbome – sal keer op keer jou asem wegslaan. Jy kan leer branderplank ry in Koffiebaai, ’n Xhosakultuurtoer doen, stap na die Mapuzigrotte of selfs stap na Hole in the Wall. Sakpas oornagplekke sluit in Coffee Shack, Friends Wild Coast Backpackers en Sugarloaf Backpackers. Vir selfsorgeenhede probeer Nenga River Lodge of, as jy nader aan die ‘Gat’ wil wees, oornag by Hole in the Wall Hotel waar daar ook ’n spa en restaurant is (hul het ook backpacker-tipe akkommodasie).

Wildekus

Mdumbi: Hierdie plek is enig in sy soort met sy panaromiese uitsigte, witsandstrande en bosgeheime. Gaan tuis by Mdumbi Backpackers en klim in ’n kayak vir die dag, ontdek die dorpie, swem, besoek die plaaslike shebien vir ’n koue biertjie en swieg heen en weer in ’n hangmat. Jy kan ook hier kampeer.

Hluleka: Welig, welig, welig, dit is Hluleka in ’n neutedop. Daar is ’n klein baai en rivermonding, ape wat baljaar op die strand, groen heuwels, sebras op jou stoep, visvangers bo jou kop en selfs vuurvliegies in die nag. Die akkommodasie by Hluleka Natuurreservaat is die kersie op die Wildekuskoek; hierdie selfsorg-dubbelverdieping eenhede – met slaapplek vir 4 persone in 2 kamers (2 badkamers) – het ‘n seeuitsig en is slegs R570 vir die eerste 2 persone tydens die hoë seisoen.

Wildekus Vroetelvoete 10

Port St. Johns: Kultuur, kusstrande, die Magwa-waterval en Ben Dekker is slegs ’n paar dinge waarvoor Port St. Johns bekend is. Daar is natuurlik ook die skouspelagtige blaasgat; water word in ’n smal rotssloot geforseer en dan skiet dit tot en met 20 meter die lug in vanuit ’n skoorsteenagtige gat (wees maar versigtig en hou jou afstand). Jy kan ook stap na die Cape Hermes Vuurtoring, op ’n bootrit gaan om walvisse te gaan kyk, swem, roei en visvang. Jungle Monkey Backpackers en Amapondo Backpackers bied stapelbed akkommodasie, privaat kamers en jy kan ook daar kamp. Vir iets meer fênsie, gaan oornag by Cremorne Estate.

Mkhambathi: Verruklik, onaangeraak, ongetem, ongerep, mond-op-die-vloer ongelooflik, dit is hoe die 7000 hektaar Mkhambathi Natuurreservaat beskryf kan word. Rotspoele, riviere, ’n waterval wat in die see in plons, inheemse bos, diere op land, in die water en natuurlik die kus. Die Wildekus. Heeltemal wild. Jy kan tuisgaan in ’n baie beskostigbare rondawel vir 2 person of in ’n groter huis (maksimum 20) in die natuurreservaat.

8 Wenke vir die Wildekus

1. As jy in vakansietye gaan, beplan vooruit en bespreek jou akkommodasie, veral as jy wil tuisgaan in die provinsiale parke se eenhede (besoek hul webtuiste by www.visiteasterncape.co.za). Indien jy in lae seisoen gaan, beplan jou roete steeds min of meer, al bespreek jy nie jou akkommodasie.

2. Tyd is belangrik as jy agterpaaie ry. Moenie afstande ry wat te lank is nie, gun vir jouself tyd om te stop langs die pad en gun vir jouself genoeg tyd by jou oornagplek ook.

3. Ry versigtig, die pad kan baie onvoorspelbaar wees a.g.v ander voertuie en diere (van koei tot vark). Moenie in die nag ry nie, en moet ook nie te vinnig ry op die grondpad nie, jy weet nooit wat is om die volgende draai nie.

4. Maak jou voertuig vol brandstof wanneer jy kan.Wildekus

5. Swem versigtig, hul noem die nie verniet die Wildekus nie. Die water is ook warmer hier, om neffens ’n haai te swem is nie onmoontlik nie.

6. Hou altyd drinkwater byderhand en top dit op soos die geleentheid opduik. Sommige oornagplekke het slegs brakwater en dit proe nie so watwaffers nie.

7. Indien jy dit kan vermy om op Vrydaemiddae deur die groter dorpe en stede te ry (soos Port St. Johns, Mthatha, Dutywa en Butterworth) sal dit jou baie tyd spaar. Op Sondae loop die verkeer soos ’n droom.

8. Trek genoeg kontant om by jou te hou, ATMs is nie orals beskikbaar nie.

Wildekus
Gaan loer in by my Engelse blog, Going Somewhere Slowly, en lees die volgende:
Getting a taste of the Wild Coast
Oh My Hluleka!

En hier is ook ‘n kort video, kyk gerus.

 

0 Flares Facebook 0 Twitter 0 Google+ 0 0 Flares ×

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

CommentLuv badge